Woord deur die Voorsitter : Sport, opwinding, oorlog en terreur
- Die vele gesigte van Suid-Afrika
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
In die laaste maand het ons verskeie wisselende emosies ervaar en twee uiteenlopende gesigte gesien rondom Suid-Afrikaners. Op die oog af is dit nie versoenbaar met mekaar nie en getuig in werklikheid van diepe verdeeldheid.
Aan die een kant is Suid-Afrika besig met rugby- en wêreldbekerkrieket. Hier ervaar ons die wonderlike gees van sportmanskap, opwinding onder alle Suid-Afrikaners die wil om te wen en die gees van ondersteuning. Wit en swart staan saam en ondersteun ons ons sportspanne. Die Springbokke wen die Rugby wêreldbeker vir die vierde keer en maak geskiedenis. Sport kan mense verenig en dit het ons telkens in die verlede gesien. Dit is asof Suid-Afrika midde in die gebrokenheid, ellende en gevolge van swak regering nog steeds die wil het om die beste te kan wees en dit te ondersteun. Dit is die een gesig. Wen of verloor, ons kan opstaan en aangaan tot die volgende keer.
Op 7 Oktober word ons gekonfronteer met die wreedste gesigte van terreur wat jy jou kan voorstel. Israel word vanuit Gasa ingeval deur Hamas terreurbendes. Die goed beplande inval en met duidelike steun van ander lande vang Israel onkant. Meer as 1 200 mense sterf in die bloedigste aanvalle denkbaar en meer as 200 Israelies word gyselaar geneem. Daarmee saam word meer as 3 000 vuurpyle afgeskiet na Israel.
Israel het geen ander keuse as om op ʼn teenaanval te gaan en Hamas leiers en terreurselle in Gasa te gaan uitwis nie. Hiervoor word Israel onmiddellik van alle kante gekritiseer en geviktimiseer. Die Afrikanerbond wat nog altyd goeie verhoudinge met die Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJRA) in Suid-Afrika gehad het stuur op 8 Oktober, na die bloedige naweek ʼn brief ter meelewing en simpatie.
Die Afrikanerbond en die SAJRA, in die besonder die Kaapse SAJRA, het nog altyd goeie betrekkinge gehandhaaf. Ons word ook herinner aan die SAJRA se bywoning van ons eeufeesvieringe tydens ons Bondsraad in 2018.
Vandag is ons diep hartseer oor die gebeure in Israel die naweek. As voorsitter skryf ek namens ons nasionale Raad om ons innige meegevoel aan u en die hele Israel te betuig in die nasleep van die voortslepende konflik met Hamas.
Ons kan ons nie die pyn, vrees en hartseer begin voorstel wat talle individue en gesinne in Israel verduur weens die terreur wat deur Hamas veroorsaak is nie. Die verlies van onskuldige lewens en die vernietiging van infrastruktuur is werklik hartverskeurende gebeurtenisse wat niemand ooit moet deurleef nie.
Ons wil ook ons diepste teleurstelling met die Suid-Afrikaanse regering en die regerende party op rekord plaas. President Cyril Ramaphosa, wat destyds nuut in die amp aangestel is, was die hoofspreker by ons eeufeesviering in die Paarl. Ons het hoë verwagtinge gehad van 'n nuwe begin vir hierdie land, met nuwe betrekkinge met ons regering, wat onder die vorige administrasie feitlik in duie gestort het. Ongelukkig was dit egter nie die geval nie, nóg binnelands nóg met verwysing na buitelandse betrekkinge.
Dit is uiters kommerwekkend dat die SA regering oor die laaste paar jaar verkies het om sy diplomatieke bande met Israel tot niet te laat gaan en Palestina in die openbaar te ondersteun en te bevoordeel.
Suid-Afrikaanse leiers het in die verlede 'n versoenende rol in baie wêrelddele gespeel. Na ons mening kan dit ook geld in die soeke na oplossings vir die Israeliese/Palestynse kwessie. Hierdie moontlikheid is egter effektief oor die jare vernietig deur die vooroordeel jeens Palestina – opnuut, nou, in die lig van die onlangse terreur deur Hamas. Terreurdade kan nooit geregverdig word nie. Die Suid-Afrikaanse regering en die regerende party het weens sy standpunt die nodige morele hoë grond verloor om by die saak betrokke te raak of selfs ’n bemiddelaar te wees. Weet asseblief dat nie alle Suid-Afrikaners dit ondersteun nie.
Terwyl die internasionale gemeenskap die situasie in die streek fyn dophou, hoop ons van harte op 'n vinnige en blywende oplossing wat vrede, stabiliteit en veiligheid vir Israel en sy bure bring. Dit is ons opregte wens dat die siklus van geweld gebreek sal word, sodat die mense van Israel in vrede en voorspoed kan lewe.
Die brief is ook aan Hoofrabbi Warren Goldstein gerig. In reaksie op ons skrywe kry ons die volgende reaksie van Wendy Kahn die Nasionale Direkteur van die SA Joodse Raad van Afgevaardigdes.
Die afgelope dae was traumaties vir SA Jodedom. Ons het in ongeloof toegekyk na die massamoord op honderde, die besering van duisende en die ontvoering van Israeli’s deur Hamas in Israel.
Daar is min in die SA Joodse gemeenskap wat nie persoonlik weet van iemand wat vermoor is of ontvoer is nie.
Wat dit nog moeiliker gemaak het om te verwerk, was ons regering se weiering om die gruweldade te veroordeel en om enige mate van simpatie of deernis uit te spreek.
In hierdie konteks wil ons ons waardering teenoor u uitspreek vir u ongelooflike verklaring van ondersteuning. U vriendskap in hierdie moeilike tyd is diep gerusstellend.
Daar het sedertdien baie water in die see geloop en het ons regering en die ANC hulle sonder skaamte en blatant aan die kant van die Palestyne geskaar. Daar was effense veroordeling van die Hamas terreur, maar dit is gekwalifiseerd gedoen.
Hamas ʼn radikale Islamitiese organisasie beheer Gasa sedert 2007. Gasa is oorgegee aan die Palestyne, daar was een demokratiese verkiesing en daarna nie weer nie. Wat gebeur het is dat Hamas regeer het asof die land aan hulle behoort en die gevolge is vernietigend. Dit moet ook in gedagte gehou word dat Egipte self lugtig staan. Hamas het vanuit die Broederskap ontstaan wat Egipte tot in 2013 regeer het. Dit het gevolg op die Arabiese lente waarin die Broederskap die beheer oorgeneem het. Dit sou waarskynlik verklaar waarom Egipte sy grense onmiddellik gesluit het vir vlugtelinge.
Daar is oor en oor bewys dat internasionale skenkings vir die ontwikkeling van die Gasa streek aangewend is vir die ontwikkeling en bou van terreurwapens. Die kwessie in die streek is egter ingewikkeld en kom uit ʼn lang tydperk waarin daar verskeie pogings was om vrede te bring. Dit moet ondersteun word. Lees gerus Jaco Kleynhans se deeglike uiteensetting in die nuusbrief.
Na die gebeure die laaste weke kom ons net weer diep onder die indruk van die ANC se onvoorwaardelike verbintenis tot sy ‘struggle’ vriende. As dit nie onregmatige fondse aan Kuba is nie, is dit die toesmeerdery van hulp aan Rusland.
Net soos Hamas in Gasa, regeer die ANC Suid-Afrika asof dit hulle land en eiendom is. Op streeks en munisipale gebied dieselfde. Geen gevoel vir Suid-Afrikaanse Jode nie. Geen wonder dat die Suid-Afrikaanse Jode deur twee verskillende standpunte dit duidelik laat blyk dat hulle eerstens voel dat die regering hulle verraai het nie, maar dat Hoofrabbi Warren Goldstein ook aangedui het dat daar voortaan nie meer vir die SA Regering spesifiek gebid gaan word nie, wel vir die mense van Suid-Afrika.
Mens kan egter die ANC-regering se standpunt oor die Palestyne deurtrek na soveel ander sake wat ons direk raak. Die ANC se ideologie van voor 1994 is nog net so in sy beleidsformulering. Onteiening sonder vergoeding, nasionalisering, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, gesondheidsversekering en vele meer.
Die Suid-Afrikaners wat die titelhouers is van huise, fabrieke en plase mag nie optree asof eienaarskap vestig in ons titelakte nie. Die enigste eienaar en wie se wil geld is die ANC-regering. Ons sien dit met die staatsondersteunende instellings en munisipaliteite wat hulle tot in die grond in bestuur. As belastingbetalers behoort ons ‘n groter sê te hê in die bestuur van die instellings as die regering. Geen wonder dus dat al meer mense begin verwys na belastingprotes of weerhouding nie.
Die 2024 verkiesingsveldtog is amptelik deur die OVK afgeskop. Ons moet seker maak en ons moet dit oral bespreek en bevestig dat mense geregistreer is vir die verkiesing. Ons kinders en kleinkinders en familie en vriende, werknemers en kollegas moet weet van die erns van die verkiesing. Die verkiesing gee die geleentheid vir elkeen van ons om ons standpunt duidelik te stel. Deur die kruisie op die regte plek te maak sê ons hard en duidelik nee vir voortgesette kaderontplooiing en amptenare gedienstig aan Luthuli-Huis , nee vir korrupsie, nee vir gebrekkige dienslewering, nee vir ʼn onbevoegde regering, nee vir ʼn politieke leierskap wat hulle telkens aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind, nee vir die ineenstorting van plaaslike regerings en nee vir staatsinstellings wat oneindige bronne verkwis deur swak bestuur. Laastens is dit hard en duidelik ʼn nee vir ʼn party wat Suid-Afrika uitverkoop aan sy ‘struggle’-vennote en hom nie skaar by diegene wat werklik kan help om Suid-Afrika weer die ekonomiese reus te maak wat hy kan wees nie. Suid-Afrikaners is die titelhouers van Suid-Afrika – Dit is tyd om op te tree soos die regmatige eienaars.
Hierdie is die laatste maandelikse nuusbrief vir 2023. Daar sal weer soos gebruiklik ʼn spesiale Kersbrief wees. Mag elkeen van ons lede waar u ook al mag wees ʼn werklike verskil in u omgewing maak. Deur sterk te staan en saam te staan kan ons die verskil maak. Dit beleef ons elke dag. Wees sterk.
Dankie vir u reaksie
Daar was 'n fout met die instuur van u boodskap
Adres