Woord deur die Voorsitter - Erfenismaand - Oppad na Bondsraad 2022
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Met dankbaarheid vir my deel wat my ouers en voorouers ons as nalatenskap gelaat het dink ek ook oor erfenis. Ek dink ook spesifiek aan die AB as erfenis vir die Afrikaner.
“Alles word twee keer geskep” skryf Stephen Covey. “Daar is ‘n geestelike skepping en ‘n fisieke of tweede skepping in alle dinge. Jy moet seker maak die bloudruk, die eerste skepping is wat jy regtig wil hê, dat jy alles deurdink het…. JY begin met die einde in gedagte!” Dit is hierdie waarheid wat my aan die dink het, anders gestel:… weet ons wat die einddoel vir die Afrikaner is? Ek vra myself hierdie vraag gegewe wat in ons land en met die Afrikaner die laaste 27 Jaar gebeur het.
Wanneer ‘n volk of nasie die bou van ‘n eie identiteit en nalatenskap sonder ‘n duidelike plan benader, mag dit in teleurstelling, blamering, selfblamering en selfs wanhoop eindig. Dit is hierdie stelling wat my dwing om enkele persoonlike gedagtes met u te deel. Hierdie stelling is in besigheidsterme BO DIE LYN denke. Ons kan dit saamvat as die SKEP VAN WAARDE om ‘n probleem of uitdaging vir iemand of besigheid of ook groepering op te los.
Ek gaan nie die produk van die AB se produk hier hanteer nie, behalwe om te sê dat dit baie duidelik vir elke AB lid en ook Afrikaner behoort te wees. Elke produkmark het twee uiterstes naamlik ‘n hoë volume en lae pryse aan die linkerkant en dan ‘n lae volume en hoë pryse aan die regterkant. Die AB is geposisioneer heel aan die regterkant met relatief beperkte getal lede (volume) met diepsinnige besinning, navorsing en openhartige onderlinge gesprekke oor die Afrikaner se uitdagings.(Prys) Hierdie samevatting vergestalt die wese van die AB vir my.
As ‘n erfenis en nalatenskap moet die AB ‘n storie hê wat voortdurend opgevars word. Stories boei en bind mense in. Dit is ook so dat dit veel makliker is om deur doodgewone goed te doen en so welvaart te bou baie beter is as om in grootpratery en spogtery te belê. Ek noem hierdie omrede ek oortuig is dat die AB nie aardskuddende dinge en besluite hoef te doen en te neem nie, maar eerder op ‘n konstante wyse deur die aard van sy wese en met kreukelvrye integriteit die Afrikaner te beïnvloed en die pad aan te dui.
Vir die AB sal dit in die toekoms belangrik wees om nie sy eie lede as teikenmark te beskou nie, anders is hy in homself vasgevang en kan nie groei of sy boodskap uitdra om te oorleef nie. Lede sal dus in ‘n groter mate weer by gemeenskapsstrukture betrokke moet raak altans daar waar betrokkenheid ontbreek.
Die AB se teikenmark weet tipies nie hoe om hul probleme op te los nie en dit is waarom die AB waarde kan bied. Aan die ander kant moet die AB nie meeding met ander Afrikaner organisasies of voor te probeer hardloop nie. Die grootste en vinnigste eis uiteindelik sy tol.
Die AB sal moet op sy sterkpunte fokus en sy swakpunte aan ander organisasies uitkontrakteer. Hierdie is ‘n strategie op homself. Ek kan egter nie die term en begrip FOKUS hier oorbeklemtoon nie.
‘n Verdere vereiste om as erfenis nagelaat te word is die uitdrukking van Brandweerman en Brand-Nooitweerman. Die vuur moet so geblus word dat hy nie weer sal opvlam voordat na ‘n nuwe vuur aanbeweeg word. Anders gestel behoort die AB projekte en aksies in die fynste besonderhede te beplan en uit te voer voordat nuwes aangepak word.
Dit bring my by verwagtinge, kritiek en soms losse inbinding tot die AB. Die gaping tussen verwagtinge en werklikheid word omskryf as emosionele spanning. In enige organisasie of besigheid bestaan hierdie spanning. Die AB moet hiervan kennis neem en die gaping so klein as moontlik af te bestuur deur goeie kommunikasie en verhoudinge. ONS IS ALMAL AAN DIESELFDE KANT. Die AB behoort ook nie op elke klein of enkele opmerkings of gebeurtenisse te reageer nie en moet eerder na tendense kyk, dit ontleed en dan ‘n waardebepaling te doen met gevolglike aksie.
Aansluitend hiertoe is die feit dat dit baie moeilik vir enige organisasie is om nuwe lede te werf terwyl daardie organisasie ‘n krisis beleef. Hierteen moet die AB waak en sal in so ‘n situasie nie kan moed verloor nie. Die AB bied die geleentheid vir lede om aan ‘n trotse en goeie Afrikaner organisasie te behoort en so bemagtig te word. Lede moet ook die AB as sulks bemark en bevorder.
Oor groei wil ek net sê dat maksimum groei en balans vir die AB net behaal gaan word waar uitdagings en voldoende ondersteuning kruis. Hiermee saam is dit belangrik vir die AB om as erfenis voort te bestaan dat respek vir die oppergesag en eiendomsregte gehandhaaf en versterk moet word. Verder behoort die AB nie goedkeuring vir sy bestaan te soek nie, soek eerder ondersteuners en lede vir sy doelstellings. Die AB is uniek omrede hy ‘n eksklusiewe en inklusiewe benadering tot Afrikanerskap bevorder. Daar is nie ander werkbare oplossings nie.
Afrikaners sal toenemend by die AB aansluit as hul waarde daarin sien. Hierdie waarde is meer van ‘n intellektuele-eiendoms aard. ‘n Aspek wat hopeloos te gering geag word en ook te min aandag geniet. My mening is dat hierdie bate al meer op elke terrein belangriker vir die Afrikaner gaan raak.
Die uitdaging vir die AB is om al meer Afrikaners te oortuig van die AB se hoë intellektuele waarde en ons kan dit op die volgende wyse doen, naamlik;
A. Ons moet meer weet as die gemiddelde Afrikaner
B. Ons moet in ons optrede ‘n teenwoordigheid en integriteit hê
C. Die AB moet bereid wees om die media en sosiale platforms tot sy beskikking te gebruik om sy insigte oor Afrikanerskap met die wêreld te deel.
Die AB kan so oorleef en ’n hoër vlak opskuif deur meer WAARDE aan die Afrikaner te bied deur beplanning, denke, oorweging, navorsing, beïnvloeding en bemagtiging.
Intellektuele eiendom is die AB se unieke onderskeidingspunt en dit sal hom laat voortleef, mits ons ons intellektuele eiendom handhaaf en uitbou.
Laastens is ek persoonlik uit ‘n sake perspektief oortuig dat om die Afrikanersaak te laat groei, die stigting van ‘n houergroep vir Afrikaners aangewese is. Dit kan bv deur aandele of onderlinge ooreenkomste wees. Op so ‘n wyse dat groter “kapitaal” getrek kan word en daar verskeie “inkomste en kontantvloeie” ontstaan, maar elke besigheid of dan organisasie fokus op sy eie kernbesigheid en bevorder en bestuur dit.” Hierdie is bloot om groter sinergie te bewerkstellig.
Ons is almal aan dieselfde kant en kom ons dink na oor ons eie bydrae tot die AB as ‘n nalatenskap en erfenis. Ons stuur eersdaags ʼn skrywe oor ledewerwing met ʼn beroep op elke individuele lid om ons hiermee behulpsaam te wees.
Wees sterk!
Adres