Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2022

Woord deur die Voorsitter - Die brûe wat ons moet bou

Deur Dries Wiese (Voorsitter van die Nasionale Raad)

 

Op 15 en 16 September 2022 is die Afrikanerbond se eerste Bondsraad na die Covid-19 pandemie. Die Bondsraad is ’n eerste ook vir die Afrikanerbond in die sin dat dit op hibriede basis sal plaasvind. Met ander woorde lede kan in persoon teenwoordig wees of aanlyn via ons Zoom Platform.

 

Die tema van die Bondsraad met die treffende embleem daarby is Afrikaners – Brugbouers na die toekoms. Die fokus van die tema Brugbouers en die embleem van die brug is uiters simbolies van die tyd waarin ons leef en reflekteer ook tot ʼn groot mate die indeling van ons program vir die Bondsraad.

 

In die eerste plek word die Bondsraad gehou by die Voortrekkermonument. Hierdie belangrike kulturele bate is eweneens ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se erfenisbesit  -  en is ʼn monument wat ‘n brug voorsien tussen die verlede en die toekoms, maar ook tussen verskillende gemeenskappe.

 

As ons dan beweeg na die program wat ons vir die Bondsraad beplan dan volg die program ook ʼn lang gesprek in die Nasionale Raad oor die aard en inhoud van die Afrikanerbond en bring dit ons by die gevolgtrekkings wat reeds dekades voor ons vasgestel is en ook vir lank na ons geldig sal wees naamlik “Die Afrikanerbond is ‘n fasiliteerder en brugbouer en doen dit deur die netwerke van ons lede vir Afrikaners, vir die Afrikaanse taalgemeenskap en ook vir Suid-Afrikaners.”

 

Ons eerste brug – Ons Christelike geloof

Die Afrikanerbond is gegrondves in die geloof dat die Bybel die Woord van die Drie Enige God is en dat dit van rigtinggewende betekenis vir die hele lewe is. Daarom sê ons ook in ons Erekode Om individueel en gesamentlik, in geesverwantskap ons Godgegewe talente diensbaar te maak aan die saak waarin ons glo. En ook “Om in die lotsbestiering van die Drie-Enige God oor die Afrikanersaak te glo.”

 

Ons tweede brug – Die AB as struktuur:

Daarom is ons eerste brug vir die Bondsraad om die bogenoemde te bevestig want ons lede en strukture moet weer ʼn gesonde basis en kern vorm waaruit ons kan werk. Dit is dus die brug onderling tussen ons as lede en tussen strukture wat sy begronding vind in die Christelike-demokrasie waarbinne ons deurgaans werk met die goue formule van eie en nasionale belang. Die Afrikanerbond se lede is almal deel van ʼn netwerk en so vorm ons ʼn netwerk van netwerke en brûe tussen mekaar. 

 

Ons derde brug – Tussen Afrikaners: 

Afrikaners mag dalk nie altyd oor alles saamstem nie; inteendeel. Maar as iets gebroke is, dan soek ons na oplossings in ons geskiedenis, deur ons wye ervaring en met kundigheid en entrepreneuriese ingesteldheid wend ons dit aan, meestal ook tot voordeel van almal. Afrikaners is by uitstek brugbouers. Ons sal oplossings soek vir ons vele probleme en uitdagings. In die polities uitdagende tyd is dit dalk ʼn prioriteit om eers vir ʼn oomblik stil te staan en dekades van interne verskille en hoogspanning agter ons te laat en as Afrikaners te besin oor ons plek en rol in die land.

 

Ons vierde brug – Afrikaans as taal

Ons is aktief deel van die Afrikaanse gemeenskap en ook deel van die Afrikaanse Taalraad wat hom in die besonder beywer vir almal wat Afrikaanssprekend is en deur Afrikaans koördinerend en brugbouend, netwerke skep; versoenend en bemagtigend in belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap optree.

 

Ons vyfde brug – Die Suid-Afrikaanse gemeenskap

Dit word elke dag duidelik dat ons ʼn verskeidenheid van brûe sal moet bou. Tussen wit en swart, brûe tussen tale en kulture, tussen minderhede, tussen minderhede en meerderhede en tussen ons verskillende geskiedenisse en erfenisse. Dit is die breë diversiteit van Suid-Afrika en as Afrikaners is ons ideaal gerat om brue te bou in verhoudinge en interaksie met andere.  Flip Buys het tydens die AB se webinaar in Augustus 2022 die ses pilare van die Solidariteitsbeweging omskryf op die pad na selfbestuur. Een van die ses pilare was Brugbou of saamwerk en het hy gesê : “Ons is verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika maar baie van ons deel dieselfde belang al verskil ons ideologies of kultureel.”

 

Die sesde brug – Afrikaners in diaspora

Daar is nie ʼn familie of vriendekring wat onaangeraak staan met kinders of kleinkinders wat eerder geemigreer het na die buiteland toe nie. Dit is hulle wat Eerste of tweede generasie Afrikaners is wat ʼn nuwe lewe elders begin het maar wat nog sterk bande het met Suid-Afrika. Hierdie is ʼn brug wat ʼn appèl rig tot elkeen wat hierdie bande op ʼn manier wil hou.

 

Die sewende brug – Deelname aan die politieke herskikking

Ons weet almal dat die huidige politieke omgewing nie volhoubaar is en eerder destruktief is vir die Suid-Afrika waarin ons almal graag sal wil woon en werk. Die oplossing vir Suid-Afrika is waarskynlik geleë in politieke koalisies en ons begin nou eers krap aan die buitenste vernislagie van die potensiaal van koalisies. Die Afrikanerbond is deel van die burgerlike samelewing en dit is die burgerlike gemeenskap wat hande moet neem met toekomstige koalisies. Dit sal ʼn koalisie wees waarin brûe gebou moet word tussen opsigtelike politieke verskille en vir die huidige onoorkombare politieke klowe.     

 

In 1985 en 1986 het die Afrikaner-Broederbond aktief begin optree as brugbouer in die politieke omgewing waarin ons vasgehaak het en wat oënskynlik tot ʼn bloedige rewolusie sou lei. Deur vasberadenheid en ʼn nuwe visie het ons bygedra tot die politieke veranderings in die 1990’s. Die tyd het dalk aangebreek dat ons weer moet toetree  in die versoeningsrol en as brugbouer in die gemeenskap. Kom ons gebruik die Bondsraad om te praat oor die toekoms wat ons graag wil sien, wat die boustene is vir so ʼn toekoms en begin saam as lede en as Afrikaners om die fondament te lê vir die bou van brûe na die toekoms. Ons verlede vereis dit van ons en die Toekoms verwag dit van ons.

 

Kom ons raak stil in voorbereiding van ons belangrike Bondsraad.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: