Woord deur die Voorsitter - Die ekonomie verg nuwe denke
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Dit is September 2021. In die pasafgelope maand is ons getref deur die steeds stygende hoë vlakke van werkloosheid, en ʼn ekonomie wat maar net nie wil groei soos wat die potensiaal is nie. Tans staan werkloosheid op 34,4% in die eng definisie waar dit in 1995 op 16,5% gestaan het. Met die ongelukkige prestasie, beklee Suid-Afrika die 1e plek in die wêreldranglys van werkloosheid. Na ons volg lande soos Nigerië (33,3%). Bosnië (32,42%) Angola (31,6%) Kosovo (27%) Palestina (26,4%) Bahamas (25,6%) Jordanië (25%) Lesotho (24,7%) en Montenegro met 23,58%)
Die ekonoom Ulrich Joubert het verlede jaar in ʼn artikel in die AB Nuusbrief juis oor die krimpende ekonomie en werkloosheid geskryf en het ook voorstelle gemaak wat oorweeg moet word om die probleme aan te spreek:
Die ekonomie vra nie of jy oud of jonk is, man of vrou is of aan watter rassegroep jy behoort nie. Die enigste vraag wat gevra word, is kan jy die werk doen? Die keuse is of jy die land verarm deur die beleid wat jy volg, of ontsluit jy die potensiaal wat opgesluit lê in die land en sy mense? Oor die afgelope vyf-en-twintig jaar, het beleid die land verarm.
Prof Jannie Rossouw skryf in die maand se nuusbrief ook oor die probleem en sê dan: “Die redes vir hoë en volgehoue werkloosheid word ad nauseam bespreek, maar kan opgesom word as beperkende arbeidswetgewing en ontwrigtende vakbondgedrag wat nie werkskepping en indiensneming ondersteun nie. Die Suid-Afrikaanse regering het nie die wil om noodsaaklike veranderings aan wetgewing te maak om hierdie probleme hok te slaan nie. Gevolglik is die regering besig met verskeie planne om werklose mense te probeer versorg, eerder as om die voor-die-hand liggende oplossing na te streef, naamlik om indiensneming meer aantreklik te maak.”
Dit is daarom so verstommend dat die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party wat al telkens beskryf is as die dinkskrum van die ANC en waarin heelwat van die swart elite en denkers opgeneem is, na ʼn vergadering die pas afgelope naweek se voorstel is dat die regering “ʼn universele basiese inkomstelaag op ʼn redelike vlak moet gee.”
Met 18 miljoen welsynstoelae afhanklikes sou mens gedink en gehoop het dat die ANC en sy alliansievennote dalk al anders begin dink het en anders begin beplan het aan oplossings vir die uitdagings wat ons tans ervaar naamlik lae ekonomiese groei en stygende werkloosheid. Die somme klop eenvoudig nie om net nog toelaes te gee nie.
Maar dan moet ons die selfhelp parallel trek uit ons eie geskiedenis. Prof Hermann Giliomee skryf “Teen 1939 het die Afrikaners geen groot nywerheidsonderneming, geen beleggingshuis, geen bougenootskap geen gewone handelsbank, geen verbruikersvereniging en geen maatskappy wat op die Johannesburg se Aandelebeurs genoteer is, besit of beheer nie. Die Afrikaner se aandeel in die private sektor in die ondernemersfunksie teen 1939 is soos volg bereken: 1 % in die mynwese, 3 % in vervaardiging en konstruksie, 8 % in die handel en 5% in die finansiële sektor.”
Oor die uiterste armoede skryf Giliomee – “Vroeg in die 1930's is die getal armblankes op 300 000 gestel, van wie 250 000 Afrikaners was - dit wil sê een uit vier Afrikaners. Met "armblankes" is bedoel mense wie se toestand so haglik was dat hulle nie volgens die veronderstelde lewenstandaard vir blankes kon leef nie.”
Dit bring ons dan by die maand September wat in ons eie geskiedenis so belangrik is en waaruit uit ons altyd inspirasie moet put. Ons lees in die omvattende geskiedenis Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994 deur Prof ELP Stals en met die voorwoord deur Prof Hermann Giliomee, dat die Afrikaner-Broederbond instrumenteel was in die denke rondom die ekonomiese opheffing van Afrikaners – sonder staatsondersteuning!
Stals skryf hieroor: “Die Bondsraad van 5-6 September 1930, waar L.J. du Plessis die Voorsitterskap by J.W. Potgieter oorgeneem het, het besluit dat die AB hom vir die ekonomiese selfstandigheid van die verarmde deel van die Afrikanergemeenskap en vir die opleiding van 'n Afrikaanse sakegemeenskap sou beywer. Ter uitvoering van dié voorneme het die UR daarop 'n Ekonomiese Kommissie benoem.
In die tyd wat daarna gevolg het, het die volgende in die besprekinge en daaropvolgende Bondsrade gebeur
Die geskiedenis wat hierna gebeur het is welbekend en is Afrikaners ekonomies bemagtig en Afrikaner armoede is grootliks aangespreek. Dit verg egter nuwe denke en toewyding. Staatsafhanklikheid is nie die antwoord nie. Ongelukkig sien ons nie vars denke hieroor nie, nie by die regering nie en nie by die alliansievennote nie.
Uit die lesse wat ons in die verlede geleer het, kan ons help om vandag ʼn verskil te maak. Die aanbod is al telkens gemaak in vele gesprekke met die regering en die ANC. Dit wil egter lyk asof ons bereidheid om te help om oplossings te vind, verg dat daar anders gedink en opgetree moet word. Dit sou ‘n einde bring aan staatskaping, korrupsie, diefstal en onbevoegdheid maar terselfdertyd ook regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging soos wat dit tans toegepas word. Hiervoor sien die huidige regering egter nie kans nie.
In stede van denke om die ekonomiese probleem aan te spreek vind ons eerder verstommende voorstelle soos die Nasionale Gesondheidsversekering, die voorgestelde staatsbeheerde maatskaplike sekerheidsfonds, onteiening sonder vergoeding en ander onwerkbare en absurde idees. Dit is op onder andere die sake wat die Afrikanerbond tans sy energie saam met soveel ander organisasies en politieke partye moet aanwend om effektief te mobiliseer teen die sake wat die ekonomie nog meer skade gaan berokken.
Dit alles verg weer nuwe planne, nuwe denke, nuwe besprekinge. Ons glo ons lede kry in elke nuusbrief genoeg stof tot nadenke om in elke invloedsfeer van elke individuele lid antwoorde te kan help gee.
Wees sterk!
Adres