Kerswense deur die voorsitter - Waardeer mekaar in Broerskap
Deur Dries Wiese
Voorsitter van die Nasionale Raad
Ten tyde van die skrywe was Suid-Afrika al vir meer as 620 dae in een of ander vorm van ʼn staat van inperking. Niemand het in Maart 2020 geweet dat die wêreld en Suid-Afrika so dramaties anders sou wees en sou lyk in Desember 2021 nie. Covid-19, het ʼn verwoestende impak regoor die wêreld gehad op mense, ons lewenswyse en die ekonomie. Suid-Afrika is ongetwyfeld getoets op vele terreine.
Toe ons in Maart 2020 begin voorberei het vir die groot onbekende pandemie, het die Afrikanerbond in ʼn mediaverklaring gesê in “die komende tyd gaan ons karakter as land en nasie in die vergrootglas geplaas word. Hierdie is nou die tyd waarin burgerlike gehoorsaamheid tot die uiterste beproef gaan word. Dit is die een uiterste, maar die ander uiterste is dat ons weet Suid-Afrikaners planmakers is...”. Hoe waar het die woorde nie geword nie! Die doel is nie om die jaar of die tyd van inperking in hersiening te neem nie. Genl. Jan Smuts het volgens prof. Hermann Giliomee in Desember 1948 geskryf: “Die beste, soos die slegste, gebeur nooit in Suid-Afrika nie.” Hierdie woorde en die waarheid van Genl Jan Smuts word nou swaar getoets. Die grootskaalse onluste in Julie, die wanaanwending van Covid-19 kommunikasiefondse deur ʼn gewese minister, die sabotasies van ons krag infrastruktuur en spoornetwerk, politieke sluipmoorde, die ontvoering van kinders en die toename in geweldsmisdaad en plaasmoorde wys nou te gereeld die slegste gesig van Suid-Afrika.
Daar was ook die hartseer kant. In die Covid-19 tydperk het ons dierbares in familieverband en vriendekringe verloor, mede-Broers aan die dood afgestaan, lede gehad wat van ernstige siekte herstel het. Ons het in die tydperk ook vreugde ervaar van kinders en kleinkinders se prestasies, ons het die goeie-nuus stories opgeslurp en in mekaar se vreugde en lede gedeel.
Dit was in die tyd dat die beginsel van Broerskap ook weer sterk na vore getree het. Ek is telkens herinner daaraan hoe lede die intieme aard van Broerskap ervaar het in tye van hartseer, nood en vreugde.
Ons as broers en ons as lede van die Afrikanerbond leef nie vir onsself nie. Ons leef in ʼn gemeenskap. Ons is Afrikaners. Ons is deel van ʼn diverse land met ander tale en kulture. Sonder intensiewe wisselwerking met die mense rondom ons, sou ons nooit ons roeping kon vervul nie. Elke broer is geroepe om in sy omgewing ʼn waardevolle funksie te verrig en te vervul. Die Afrikanerbond en elke broer staan daarom in 2021 en net soos in 1918 in diens van Afrikaners, ons gemeenskap en ons land. Wat ons in die Afrikanerbond kry, moet uitgedra en uitgeleef word na buite. Wanneer byeenkomste of ʼn webinaar plaasvind is dit om nuwe krag en besieling te kry en dan moet ons uitgaan om die ideale en strewes van die Afrikanerbond, in ons werk, in ons vriendekring, in ons omgang met ander Suid-Afrikaners van ander kulture en tale uit te dra en te leef. Dit is die uitlewing van ons Christen-Demokratiese begronding.
In die Afrikanerbond het ons die heerlike waarde van ʼn intieme groepsverband leer ken. Maar die Afrikanerbond is nie ons enigste groepsverband of identiteit nie. Buite die Afrikanerbond moet ons die waarde van ons identiteit laat geld deur ander mense skeppend en gesond te beïnvloed. Dit het ons soveel maal in die verlede met ons verskillende aksies en projekte en die skep van instellings gedoen. Ons moet voortgaan om mense byeen te bring, waarde vir hulle toe te voeg en sodoende geleenthede te skep waar ons saam kan werk in die bevordering van gemeenskaplike strewes en ideale.
Die Afrikanerbond staan in diens van Afrikaners. Die Afrikanerbond moet gedurig nuwe probleme en uitdagings die hoof bied, nuwe oplossings vind, en met nuwe ywer en besieling vorendag kom.
Die landwye en plaaslike instellings wat oor dekades uit die aktiwiteite van broers gebore is, was nie die vernaamste skeppingswerk van die Afrikanerbond nie. Ons skeppingswerk is veral gedoen in die gees van mense, buite sowel as binne die Afrikanerbond. Gedagtes wat geplant is. Menings wat gevorm is. Gesindhede wat geskep is. Ideale wat mense laat handel het. Bemagtiging van lede, wat hulle netwerke ver en wyd beïnvloed het.
Die Afrikanerbond bly verbind daartoe om onsself, ons energie en vermoëns aan ons land diensbaar te stel ten einde die kwaliteit van lewe van alle mense in Suid-Afrika te verbeter en hul menswaardigheid te bevorder. Dit kan egter nie ongekwalifiseerd wees nie. Ons is van oortuiging dat Afrikaners net hul beste bydrae kan lewer indien hulle fisies, emosioneel, kultureel en ekonomies geborge voel in hulle geboorteland en nie onder onregverdige beperkings, van watter aard ook al, gebuk gaan nie. Daarom sal ons die fundamentele regte van elke indiwidu en elke groep in hierdie land met vasberadenheid verdedig. Daarom sal ons ons ook beywer vir die uitskakeling van diskriminasie op elke terrein waar dit voorkom. Ons is ook bedag daarop om die belange van die mense uit wie se ideale ons gegroei het en steeds geïnspireer word, noulettend te beskerm en uit te bou waar dit ook al bedreig word. Dit is in hierdie gees en die soeke na oplossings binne hierdie konteks wat ons kyk na die Bondsraad van 2022 wat waarskynlik in September gehou sal word.
Dankie aan die lede van die Nasionale Raad, ons Christiaan de Wet Fonds se direksie asook lede en laastens aan ons personeellede. Almal het groot persoonlike opofferings gemaak vir ʼn saak waarin ons onvoorwaardelik glo. Aan elke lid wat hierdie jaar ʼn AB nuusbrief gelees het en daardeur geïnspireer is, wat ʼn AB in dialoog webinaar bygewoon het en daardeur bemagtig is, wat ʼn studiestuk gelees en andere daardeur beïnvloed het en wat ʼn byeenkoms op watter vlak ook al bygewoon het en daardeur broerskap ervaar het, u het die waarde van die Afrikanerbond besef en beleef.
Namens die Nasionale Raad van die Afrikanerbond, myself en my eggenote Charlotte is dit ʼn besondere voorreg om u en u geliefdes ʼn geseënde Kersfees toe te wens. Mag hierdie Christusfees opnuut vir elkeen gevul wees met vrede, liefde en seën. Dit is ook ons wens dat 2022 baie voorspoedig sal wees vir die land en sy mense.
Dit is ook gepas om u weer te herinner om u gesondheid eerste te stel in hierdie vierde vlaag in die Covid-19 tyd en alles moontlik te doen om u persoonlike veiligheid te verseker.
Aan Hom wat ons beskerm en bewaar het kom al die lof en eer toe
Geseënde Christusfees! Wees Sterk
Adres