Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

Die gewroeg oor die verlede is olie op die vuur vir diegene wat wittes wil straf  

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

In die dae voor en na Menseregtedag op 21 Maart was daar enkele berigte in Afrikaanse dagblaaie wat ruim aanhaal uit die eensydige opinies en menings van sommige Afrikaners wat hulself op ʼn morele voetstuk plaas oor die verskonings oor apartheid en die verlede. Die skrywes bevestig opnuut die apologete se pogings om Afrikaners te kriminaliseer en aandadig te hou oor die verlede. Dit is dan geen wonder dat President Ramaphosa op die tema en debat van Afrikaner wroeging kon voortbou en apartheid en witmense en rassisme uitsonder in sy toespraak te Koster. So bly ons in die beskuldigdebank.

 

In die huidige klimaat wat reeds swaar gepolariseerd is, is dit tog nodig dat diegene in Afrikaner geledere omsigtig moet wees met openbare standpunte wat gelaai is met selfopgelegde moraliteit en vanuit die posisie dan eensydige voorwaardes stel vir enige gesprek met enige redelike Suid-Afrikaner.

 

Wat die verskoning vir apartheid aanbetref. In 1996 en weer in 1997  het mnr FW De Klerk by die Waarheid en Versoeningskommissie opreg verskoning gevra vir apartheid. Hierdie verskoning is afgemaak en is de Klerk selfs verkleineer. Die transkripsie en verskoning kan gelees word by die volgende skakel.

https://omalley.nelsonmandela.org/omalley/index.php/site/q/03lv02167/04lv02264/05lv02303/06lv02331/07lv02334.htm

 

In Augustus 2006 het oud polisie minister Adriaan Vlok in ‘n besonderse simboliese gebaar dr Frank Chikane se voete gewas as teken van sy berou oor dit wat onder apartheid gedoen is. Hierdie verskoning is deur Adv Dumisa Ntsebeza, gewese hoof van die Waarheid-en-versoeningskommissie se ondersoekeenheid as “te min, te laat” afgemaak. FW De Klerk se onvoorwaardelike apologie op sy sterfbed was skynbaar ook nie voldoende nie en is ook afgemaak as te laat. Die feit van die saak is dat geen verskoning van FW De Klerk of enige leier van die wit verlede voldoende sal wees vir ʼn groepering wat met selfopgelegde morele gesag regter en jurie wil wees nie. 

 

Terwyl daar nou kwistig blaam uitgedeel word, is die vraag dus wie nog namens die wit mense verskoning moet maak? Verskonings is al deur kerkgroepe, mediagroepe en vele meer gemaak. Nog meer, wie moet die verskonings beoordeel en wie gaan finaal besluit oor die erns en inhoud daarvan sodat ons kan aangaan? Met beide de Klerk en Vlok se verskonings is die verskonings verwerp. Die verdere vraag is wie gaan in 2022 die morele gesag hê om te beslis wie se verskoning is aanvaarbaar en wie word vergewe? Dit is goed en gaaf as sommige apologete aanhou wroeg maar dit sal steeds nie oplossings bring en die verlede ongedaan maak nie. Nog verskonings gaan nie die hedendaagse probleme oplos nie, want die verlede het verskeie perspektiewe en ʼn konteks waarin dit plaasgevind het.

 

Apartheid was verkeerd. Niemand probeer meer die stelsel regverdig of in stand hou nie. Hierdie stelsel het diep pyn en letsels veroorsaak. Geen verskoning gister, vandag of môre sal klaarblyklik voldoende wees om die onregte van die verlede aan te spreek nie. Dit wat apartheid aanbetref. Om nogeens in 2022 ʼn Afrikaner eensydige waarheids- en beskuldigingskommissie te hou skep klowe en nie brûe nie. 

 

Ons sit met ʼn stelsel in 2022 wat eweneens onreg skep. Net so is die omgekeerde swart rassisme wat ons vandag beleef verkeerd. Net so is die diskriminerende maatreëls soos regstellende aksie verkeerd. Net so is die onvermoë om dienste aan almal te lewer verkeerd. Net so is die misdaadgolf verkeerd. Net so is die behuising, mediese en dienste agterstand verkeerd. Net so is die Eskom debakel verkeerd. Net so is die voortdurende vingerwysing na apartheid vir die hedendaagse probleme verkeerd. Net so is die plundering van die staatskas deur staatskaping, korrupsie en wanbestuur verkeerd. Die regering se gebrek aan aanspreeklikheid is net so verkeerd en die onvermoë om hiervoor verskoning te vra en reg te stel, is net so verkeerd. Gaan ons die verlede aanhou blameer en handewringend onsself in ʼn ondergeskikte status plaas omdat die verlede ons daar hou en ons na sommige se mening nog nie genoeg gestraf is of nie genoeg boetedoening gedoen het of nog nie vergewe is nie? Skynbaar is die gewroeg oor gister en die verlede ʼn groter prioriteit as om iets te doen aan vandag sodat ons ʼn beter môre kan verseker. 

 

Algemene beskuldigings en veralgemeende verskoning in 2022 en ʼn nuwe skuldbelydenis oor die verlede dien geen doel nie en polariseer ons gemeenskappe eerder verder. Die probleem is eerder dat die verskonings wat reeds gemaak is, nie aanvaar is nie. Die verdere dilemma en groter gevaar is dat die gewroeg uit die wit gemeenskap en voortdurende verskonings olie op die vuur is vir diegene wat onteiening van grond sonder vergoeding voorstaan, wat wit mense en apartheid blameer vir huidige probleme en dan sommer ook nog ʼn tipe welvaartbelasting op wit mense wil hef as reparasie vir die verlede. Die eerste prys vir ʼn groot gros is natuurlik dat die wit mense uit die land padgee “want dit is in 1652 gesteel”. 

 

Apartheid en skuld kan nie die agenda vir die noodsaaklike gesprekke tussen Suid-Afrikaners bepaal nie. Dit is inderdaad so dat gesprekke tussen Suid-Afrikaners broodnodig is. Die fokus moet daarom eerder wees op aksies en inisiatiewe om die goeie wil van wit Suid-Afrikaners te betrek wat geroepe voel en vasberade is om in Suid-Afrika te bly, wat wil meewerk om die land te laat werk tot voordeel van almal. Hierin wil meeste van ons eerder ‘n konstruktiewe en positiewe rol speel. Dit is tyd om te begin skryf aan ʼn nuwe hoofstuk maar dit kan nie as basis hê dat ons eers weer nog ʼn hoofstuk oor die verlede skryf, opnuut oor die verlede praat, weer verskoning moet maak, nog eens wroeg en weer handewringend as mindere en ter wille van politieke korrektheid, nie wil praat oor die onregte van vandag en tans menseregte aantas nie.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: