Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die Here sál! - 1 Julie 2020  (Dag 97) 

• “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red, sê die HERE,
• omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
• Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
• in sy nood sal Ek by hom wees” (Ps.91:14,15).

Ons moet nooit dink dat die seën van die HERE van ons goeie werke en mooi lewens afhang nie. Ons verdien niks van sy goedheid en genade nie. Bostaande twee verse uit Psalm 91 mag vir ons die indruk skep dat daar darem so ’n stukkie verdienste is, nl. dat: ás ons … dan sál die HERE… Alles hang van ons af.

Kyk mooi: jy kan nie jou liefde by die HERE gaan inruil om redding te kry nie. Hy “betaal” jou nie vir jou “moeite” en jy stap weer van Hom af weg nie. Soos byvoorbeeld ’n loodgieter wat jou geiser kom regmaak. As hy klaar is, betaal jy hom en hy gaan weer weg. Hy bly nie by jou nie. Hy lewer net ’n diens.

In Psalm 91 gaan dit oor ’n verhouding. Dit gaan oor God se gelowige kinders, wat by Hom skuiling vind en sy beskerming geniet (:1). Dis húlle vir wie Hy sê: “Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie” (:5,6).

Omdat jy dus as ’n kind by die HERE bly en Hom gekies het as jou skuilplek en beskermer sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

Hierdie woorde wil vir ons sê: God is ’n lewende werklikheid, Hy is ons getroue God. HY SÁL! Nou, vandag, môre en altyd.

Hier word ’n klomp moeilike omstandighede in Psalm 91 vermeld. Dit bring vir ons die boodskap dat God by ons is en sal bly, maak nie saak hoe sleg dit met ons gaan nie. Siekte sál oor ons kom, ons kan selfs in ons eie huis of plaas of besigheid aangeval word, pes (’n virus) kan oor ons toeslaan, die donker kan ons vaskeer, skuld kan ons doodwurg, storms kan oor ons uitsak…. maar die HERE sal nie van ons weggaan nie. 

Hy sál jou red!
Hy sál jou beskerm!
Hy sál jou gebed verhoor!
In jou nood sál Hy by jou wees!
Hy is getrou!

Groete en sterkte in moeilike tye.

Ds. Attie Beetge
Stellenbosch
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: