Vryheid is gebondenheid aan die Gees - 1 Junie 2020 (Dag 67)
Teks: Openbaring 1:5c en 6b. “Aan Hom wat ons lief gehad het en van ons sondes gewas het in Sy bloed....aan Hom kom die heerlikheid en die krag toe vir ewig en ewig. Amen”
Na die opstanding van ons Here Jesus Christus uit die dood woed oorloë, aardbewings, hongersnode, pestilensies, onregverdige arrestasies en nog vele meer: Jesus Christus is oppad na die einde van hierdie wêreld. (Mar. 13) Jesus self sê, al Hierdie dinge (die oorloë, aardbewings ens) is die wolkewaens waarmee Hy aangery kom oppad na die einde (Open. 1:7) Alle oë sal Hom sien kom, maar nie almal sal Hom herken nie. (Matt 28 en Open.1)
En nou is dit byna ondenkbaar, maar nieteenstaande al die vernielende dinge wat Sy koms ontlok, ontlok Sy koms ‘n loflied op die lippe van Johannes. “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in Sy bloed... aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid”. (Open 1: 5ben 6b)
Maar is dit moontlik om ‘n loflied op die stormgeweld van ons tyd te sing? Johannes antwoord onmiddellik: die loflied gaan oor Hom wat ons op hierdie oomblik lief het. Oor Hom wat Sy liefde in hierdie uur van spanning en nood en onstabiliteit aan ons toon. Sy lesers en ook ons kan natuurlik sê: maar daar sien ons niks van nie. Waarin toon Hy Sy liefde? Johannes antwoord: Sy liefde toon Hy daarin
• dat Hy ons van ons sondes gewas het in Sy bloed.
• Dat Hy ons deur Sy kruisdood losgekoop het van die mag van Satan.
Maar dit het in die verlede gebeur. Hoe toon Hy Sy liefde nou, in die hede aan ons?
Kyk, sê hy weer: As hy ons losgekoop het, dan beteken dit tog dat ons vandag, op die oomblik bevryde mense is. En is dit geen betoning van Sy liefde dat ons op die oomblik in vryheid mag lewe nie ? Let wel, dit sê die man wat op die eiland Patmos opgesluit sit. Hy sê dit vir mense vir wie die tronkdeur aanstons sal oopgaan.
Mense...ons is vry. Gevangenes...dis ander. In elk geval nie ons nie.
Indien die Seun jou vry gemaak het dan is jy waarlik vry.
Die groot gevangenes van die lewe is die sonde en die waaragtige vryheid is alleen hulle wat uit die mag daarvan los gekoop is deur die bloed van Jesus Christus. Vryheid is dus nie dat jy vry rondloop nie want die man wat vry rondloop kan nog steeds deur die duiwel gebind wees en deur God bewaar word vir die dag van oordeel. Ons, sê Johannes, ons is vry. Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Wat die toekoms vir ons nog mag inhou weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat ons vry mense is...en dit is al wat tel. Jesus Christus se liggaam is gebreek en Sy bloed is vergiet tot ‘n volkome versoening van al ons sondes. Dis die prys wat Hy vir ons vryheid betaal het.
By elke Nagmaal verseker Hy my daarvan deur ‘n stukkie brood en ‘n slukkie wyn.
Bid dat die Gees die vryheidsvlam deurentyd in u lewe brandende sal hou. Hef u loflied dan aan: Aan Hom kom die heerlikheid en die krag toe vir ewig en ewig. Amen
Vryheid is gebondenheid aan die Gees. In die vryheid waartoe Christus ons vrygekoop het waai die Gees ons net waar Hy wil. Kan jy vryer as dit wees ?
Dr Frans de Bruyn
Bloemfontein.