Krag wat troos bied - 2 Julie 2020 (Dag 98)
Lees 2 Korintiërs 12 vs 1 - 10
In 55 nC is Paulus in Masedonië. Na 'n besoek aan Korinte wat sleg afgeloop het, was daar spanninge tussen Paulus en die gemeente van Korinte. Genadiglik het die gesindheid verander. Paulus skryf om sy gesag as apostel te verduidelik. Dit is 2 Korintiërs. In hoofstukke 10-13 leer ons Paulus as mens ken.
Hy maak sy hart teenoor hulle oop. Hy gee 'n ''katalogus van lyding''. (2 Kor 11:23-29) en herinner hulle aan sy harde handewerk, teenkanting en verwerping. Hy verwys na 'n doring in die vlees. Daar is ook melding van 'n geestelike ervaring as 'n uitsonderlike ervaring waaroor hy sou kon spog. (2 Kor 12:1-4)
Die negatiewe en die positiewe ervaringe is as swakhede beleef. Hierdie dinge kon hom kortwiek, moedeloos maak en hom laat tou opgooi. Die positiewe ervaringe kon hom hoogmoedig maak sodat hy nie die gesindheid van Jesus in die uitleef en verkondiging van die Evangelie sou bekend maak nie. Hy besef sy broosheid, sy hulpeloosheid en sy weerloosheid. In homself het hy nie die krag om hierdie dinge te hanteer nie. Die krag om nie omstandighede toe te laat om sy volgelingskap van Jesus en die verkondiging van die Evangelie te benadeel nie.
Paulus se verwysing na Christus se krag word in verskillende vertalings verskillend vertaal. Die krag van Christus is my beskutting. Die krag van Christus kan in my woon. Die krag van Christus kan op my rus.
Paulus bring sy swakheid en die krag wat hy nodig het in verband met die misterie van God se manier van werk deur die bymekaar bring van twee teenoorgestelde werklikhede. Die paradoksale aanwesigheid van Goddelike krag te midde van menslike swakheid. Hierdie misterie word in Jesus Christus se sterwe ontrafel. Hy sterf aan 'n kruis, as vervloekte. Menslik, swak. In absolute hulpeloosheid, van God en mens verlate. Met helse smarte na gees en liggaam. Langs hierdie weg ontsluit Jesus die grootste krag denkbaar met Sy opstanding uit die dood. 2 Kor 3:14.
Uit genade, in geloof, het God Paulus tot Sy kind en woonplek omvorm. In hierdie persoonlike, liefdevolle verhouding het Paulus hierdie krag deelagtig geword. Dit is immers deel van die Goddelike natuur waaraan Paulus deel gekry het. 2 Petr 1:4. Hoe meer Paulus sy swakheid beleef, in alles en onder alle omstandighede, kan God se krag in hom werk – tot God se eer. Sodat die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het se krag in hom en sy Evangelie verkondiging sigbaar word.
Hierdie krag van Jesus is deel van die gelowige se troos waarna die Heidelbergse Kategismus verwys. Die H.K. se troos vir lewe en sterwe is dikwels mis verstaan. Die H.K. is in Duits geskryf. Die Duitse woord wat as troos vertaal is, beteken: ''Uit leed en kommer regophelp'' of ''weer vertroue gee''. Regophelp veronderstel dat iemand wat geval het, regop gehelp word om weer, met vertroue, verder te loop.
''Wat is jou troos?'' vra die H.K. 'n Vraag waarop jy persoonlik moet antwoord. Jy wat met die Wederkoms van Christus aan die Regter oor jou lewe moet rekenskap gee. Rom 14:12. Wat is dit waarop jy reken om jou regop te hou te bemoedig in hierdie deurmekaar wêreld en tye? Wat dink jy, is die ENIGSTE troos om jou regop te hou. Tydens jou aardse lewe en die lewe na die dood.
My enigste troos, sê die H.K., is dat ek nie aan myself behoort nie maar aan my getroue Verlosser, die Here Jesus Christus. Ek behoort aan Hom en Hy stel Sy krag vir my beskikbaar. Hoe? God vra dat ek my sondigheid, my swakheid en my hulpeloosheid sal bely. Dat ek God se beloftes wat in die Bybel opgeteken is en met die Sakramente as tekens en seëls bevestig is in geloof sal aanvaar. Uit genade, met die krag van die Here Jesus, ruk God die gelowige weg uit die duisternis. Stel Hy die gelowige onder die heerskappy van Sy Seun wat Hy lief het. Verlossing word aan die gelowige gegee. Kol 1:13. Die Heilige Gees laat die gelowige van Bo af weer gebore word. Joh 3:3. Hy maak van die gelowige die woonplek van die Drie Enige God. Hy laat die gelowige deel kry aan die Goddelike natuur waarvan die krag van Christus deel is. Die Here Jesus se krag word 'n skuilplek vir die gelowige, te midde van alle swakheid.
As Jesus volgelinge leef ons met vrede en vreugde in ons harte. Is ons in staat om die krag van Jesus se liefde sigbaar te maak. Ons leef met die sekerte dat die dood dood is. Die sterwensproses sal 'n oorgang wees na 'n nuwe lewenswyse om in heerlikheid in God se teenwoordigheid te leef op 'n nuwe aarde, in 'n nuwe hemel.
Ds. Flip Fourie
GEORGE