"Here. ek is bang, help my, asseblief" - 2 Junie 2020 (Dag 68)
• “In dié tyd het Hiskia tot die dood toe siek geword. Die profeet Jesaja gaan sê toe vir hom: Die HERE sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie van hierdie siekte herstel nie, jy sal doodgaan” (Jes.38:1 Die Boodskap).
Ek weet nie of daar al ooit ’n tyd was waar ons so voortdurend aan die dood herinner is, soos in hierdie tyd nie. By elke nuusuitsending of in elke koerant hoor en lees ons op ’n daaglikse basis van hoeveel mense op daardie dag gesterf het. Dan krimp ons harte inmekaar, want ons weet nie of dit dalk môre ek of jy is nie.
Koning Hiskia het tot die dood toe siek geword. Toe stuur die HERE die profeet Jesaja om vir hom te sê: “Kry jou sake in orde, want jy gaan nie van hierdie siekte herstel nie, jy sal doodgaan”. Daar is soveel mooi dinge wat oor koning Hiskia gesê kan word. Hy was ’n opregte gelowige wat die HERE gedien en bely het. Toe die Assiriërs die land binneval en Godslasterlike dinge sê, toe trek hy rouklere aan en verootmoedig hom voor die HERE. Hy bid tot die HERE: “HERE, Almagtige… U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, HERE, luister, kyk tog, HERE, let tog op …” (Jes.37:16,17).
Om op die kruin van jou lewe ‘n berig te kry dat jy gaan sterf, is nie maklik nie. Daar is soveel wat Hiskia nog kon en wou doen. Daarom het hy bitterlik begin huil. Hy het by die HERE gepleit: “HERE, ek is bang, help my, asseblief!” (Jes.38:14b DB).
Wat het Hiskia alles gedink toe hy so siek was? Hy sê self: “Ek het gedink dat ek in my beste jare sou doodgaan en begrawe sou word… Ek het gedink dat ek maar my vriende sou moes groet… Dit het gevoel of my lewe in ’n oogwink van my weggeruk word… ” (Jes.38:10-11. DB). Sy hele lewe het skielik soos ’n rolprent voor sy gedagtes afgespeel, en hy het besef hy het nog so min gedoen. Daarom was hy bang en het hy bitterlik gehuil.
Elkeen van ons is bang, bang vir siekte, bang vir die dood. En tog moet ons almal sterf. Is jy gereed daarvoor? Die HERE het vir Hiskia ’n tweede kans gegee: “Ek het gehoor wat jy gebid het en Ek sien jou hartseer. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe” (Jes,38:4).
Hoeveel kans het die HERE net nie al vir jou en my gegee nie. Dink aan jou eie lewe en jy sal onthou hoeveel plekke en gebeurtenisse daar was waar die HERE jou deurgedra en vir jou nog ’n lewenskans gegee het.
As jy dus, soos Hiskia, ook dalk ’n moeilike tyd beleef, of as die skaduwee van die dood oor jou hang, mag jy ook maar bang wees. Jy kan maar huil en in gebed voor die HERE lê. Die HERE sal luister na jou gebed. Bid saam met Hiskia: “Hoor tog, HERE, luister, kyk tog, HERE, let tog op …” . Want “ek is bang, HERE, help my asseblief”. En hoor dan die HERE wat vir jou sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes.41:10).
Dit bring vrede in jou gemoed en
kalmte in jou gees.
Ds. Attie Beetge
Stellenbosch