Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die fokus van ons lewe  - 3 Julie 2020  (Dag 99) 

Hebr 12:1 en 2 “… laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Stephen Covey is van mening dat verandering net suksesvol hanteer kan word as die fokus van ons lewens reg is. Hy wys daarop dat daar baie verskillende dinge is wat die fokus van ‘n mens se lewe kan wees. Dit kan geld wees. Dit kan die soek na erkenning of prestasie wees. Dit kan ekself wees. Dit kan my vrou wees. Dit kan my kinders wees. Dit kan sport wees. Dit kan die genot van die oomblik wees.   

Wat dit ookal is, die fokus van jou lewe is die die bron van:
1. Jou sekuriteit.
2. Jou rigting. Dit voorsien jou van ‘n kompas vir jou lewe. 
3. Jou wysheid. Dit voorsien jou van die riglyne vir wat reg en verkeerd is.
4. Jou krag. Dit is die bron van jou energie.

Covey gaan voort om uiteen te sit hoe die alternatiewe sake waarop jou lewe gefokus kan wees, die sekuriteit, rigting, wysheid en energie van ‘n persoon beïnvloed. Met elke ander “fokus” sal hierdie dinge wat ons nodig het om ons te rig in ‘n proses van verandering, verskillend daar uit sien. Hy maak dan ‘n saak daarvoor uit dat die beste keuse vir die fokus van jou lewe “beginsels” is. Hy pleit vir ‘n “principle centred” lewe.

Die Bybel stem saam daarmee dat ons ons oë reg moet fokus. Maar dit gaan ‘n stap verder as Covey. Dit leer ons dat die “beginsels” bepaal word deur “’n Persoon”. Dit is hierdie “Persoon” wat die fokus van ons lewe moet wees. Jesus sê: “Sonder My kan julle niks doen nie”, en “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”. Die skrywer van die Hebreërbrief sê ons moet die lewenswedloop hardloop met ons oog gerig op Jesus.

Hy is ons sekuriteit: Hy is Emmanuel – God met ons. Hy sê vir sy dissipels “Ek is by julle, al die dae tot by die voleinding van die wêreld”. Hy sê ook: “Julle moet julle dus nie bekommer … nie” en “Ek is die goeie herder … ek gee hulle (sy skape) die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Hy voorsien rigting vir ons lewens en ook ’n bestemming: “Ek sal Hom (die Heilige Gees) na julle toe stuur … wanneer Hy kom … (sal) Hy julle in die hele waarheid lei” en “Ek gee vir julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Dan leer Hy ons ook dat die hele Wet saamgevat is in die wet van die liefde. Hy sê verder in Joh 14:2 en 3 “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak … En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Hy is ons Wysheid: Paulus sê dat “Jesus … vir ons geword het die wysheid wat van God kom.”

Hy is ons krag: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.” 

Wanneer ons ons fokus op die Here hou, sal geen proses van verandering of onsekerheid vir ons enige bedreiging inhou nie.

Dit is belangrik om te weet dat ek die enigste een is wat die fokus van my lewe kan kies. Laat ons dit doen met ‘n duidelike besef van die konsekwensies van ons keuse.

Martin Brand
Kokstad 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: