“Rig, Heer, u genade-oog!” - 3 Junie 2020 (Dag 69)
Groet met elmboog.
Dié riglyn vir die stryd teen die verspreiding van Covid-19 is vervang met strenger en veeleisender maatreëls. Dinge soos die handhawing van interpersoonlike afstand, was van hande, dra van ʼn masker, tuisbly, e.a. Met hoeveel integriteit gehoorsaam ek as Christen dié voorskrifte? Stel ek ʼn voorbeeld? Besef ek wat is op die spel? Vir my as bevoorregte landsburger, maar veral vir die werklose saamgehokte massas in armoede, ellende, rommel en vullis? Hoe ondersteun ek president Ramaphosa en sy leierspan en almal onder druk in hulle oorlog teen die verspreidende plaag? Die menslike lyding en moontlike lewensverlies word vergelyk met dié van Wêreld Oorlog II en selfs groter. Uit liefde vir ons medemens is geen opoffering te groot in ons oorlewingstryd nie. Johannes skryf dat ons liefde met die daad bewys moet word (1 Joh. 3:18).
Roep tot God omhoog.
“Roep My aan in ʼn tyd van nood; Ek sal jou red en jy sal My eer” (Ps. 50:15). Menslike anti-virusplanne alleen kan ons nie red nie. Kenners voorspel ʼn moontlike jaarlikse herhaling. In die verlede was lewe op aarde meer as een keer byna uitgewis. Kan dit weer gebeur? Moet dit weer gebeur om die aarde te red? ʼn Tyd van nood. ʼn Tyd om tot God te roep. Inperkings voorsien gebedstye. Tyd vir kniewerk met my gesig op die mat. Tyd vir voorbidding, huis-gebede, telefoongebede, Whatsapp-gebede, Skype-gebede, gebede wat die wêreld omspan. Laat ons gebedsopdragte en gebedsbeloftes in die Bybel naslaan, dit bestudeer en bepeins. Laat ons die verwagte uitkomste van God se beloftes gratis versprei as antiserum teen toekomsvrees.
“Rig, Heer, u genade-oog!”
Een man, Abraham, het vir die behoud van die goddelose Sodom en Gomorra gepleit. God was bereid om die stede te spaar as slegs tien inwoners regverdig was. Ons, as deel van sy wêreldwye verbondsvolk, roep Hom aan in die Naam van sy Seun. Dié Naam is ons pleitgrond (Joh. 14:13). Sy barmhartige oog deurgrond ons en die wêreld van 2020 se omstandighede, behoeftes, vrese en lyding (Ps. 103:8). Sy Heilige Gees verwoord ons nood in hemelse gebedstaal (Rom. 8:26). Gebed verander twyfelaars in lofbedienaars. Gebed laat ons die onsienlike in die wêreld se stryd teen Covid-19 sien, soos die Israeliete op hulle tog deur die woestyn (Hebr. 11:13). Ons begin God dank vir wat Hy doen en gaan doen (Ef. 3:20, 21).
Groet met elmboog;
roep tot God omhoog:
“Rig, Heer, u genade-oog!”
(Haiku-gedig vir grendeltyd — WAF)
Dr Willem Fourie
Strand