Kommunikasie in die tyd van inperking - 4 Julie 2020 (Dag 100)
Lees: 1 Johannes 1:1-4
Ek stap met my masker by die Hypermark in en mense groet my, maar ek herken hulle nie. Eers toe ons nader aanmekaar staan, herken ek die stemme en sien dit is ou bekendes agter die maskers. Maar dit is nie al wat die kommunikasie bemoeilik nie. Ons moet so ver van mekaar staan dat die afstand ook intimiteit verhoed.
Ook `n derde saak benadeel die kommunikasie weens die gehoorprobleme wat met die ouderdom kom. `n Mens besef eers regtig hoe afhanklik `n mens is van liplees en gesigsuitdrukkings om mooi te kan hoor. Die voorkoming van die dodelike siekte dwing ons om maskers te dra en `n veilige afstand te behou en nou kan ons mekaar nie behoorlik hoor nie.
Dit het my aan die dink gesit oor kommunikasie. Ek is te onkundig om hier volledig op hierdie interessante onderwerp in te gaan en wil maar net `n paar waarhede onderstreep.
Ware kommunikasie kan eers plaasvind wanneer maskers afgehaal word en mense in alle eerlikheid en opregtheid met mekaar begin praat. En dit is twee seldsame eienskappe in ons dag. Swakhede en tekortkoming het geen plek in `n samelewing wat alleen respek het vir net die beste nie. Sagmoedigheid en nederigheid is ook uitgedien.
Dus word die maskers opgesit en bolangs gepraat. Dit laat die harte onaangeraak en mense seil soos skepe bymekaar verby.
Ons het gepraat van afstand tussen mense wat kommunikasie bepaal. Hier in ons Sentrum mag geen familielid, vriend of kind ons bejaardes kom besoek nie. Die bejaardes is uitgehonger na die aanraking van hul geliefdes. Selfone en selfs video oproepe, hoe kosbaar ook, kan nooit die warm, liefdevolle teenwoordigheid en aanraking van `n geliefde vervang nie.
Nou leef ons in `n tyd waar daar min tyd is vir nabye kuiers. Mense wil nie te na aan mekaar kom nie. Dit is veiliger om ander op `n afstand te hou, dan gaan hulle nie lastige eise stel nie of my privaatheid binnedring nie. Ek kan ongestoord my gang gaan. Ons is mense met menseregte.
Die derde punt was die verstaan van mekaar of die misverstaan van mekaar omdat ons mekaar nie mooi kan hoor nie. Om mekaar reg te kan hoor, is dit nie genoeg om mekaar se oë te sien nie, nee, jy moet die gesig sien, die emosie kan lees. `n Mens se gesig is `n openbaring. Wat vir jou na `n erge belediging sou klink, kry heeltemal `n ander betekenis as jy die skalkse laggie sien en die glinster in die oog. `n Geliefde se gesig laat die son vir jou skyn. Netso kon die teleurstelling in my pa se gesig my baie harder slaan as die spantou.
Waarheen mik ek met die gesprek oor kommunikasie?
Die regte kommunikasie is die ware Bron van Hoop .
Johannes skryf in sy brief dat Ons Hemelse Vader in Jesus as`t ware Sy masker van onsigbaarheid en onbekendheid afgehaal het.
Vers 1 sê: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja,ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.” Filippus het by geleentheid vir Jesus gevra: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” En Jesus sê vir hom : “Wie My sien, sien die Vader.” Jesus nooi almal wat uitgeput en oorlaai is om na Hom te kom, want Hy is sagmoedig en nederig van hart, soos Sy Vader.
Jesus is te alle tye eerlik ook wanneer hy vir Sy volgelinge sê: “Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” Daarom kon Paulus ook sy masker afhaal en bid om verlos te word van sy doring in die vlees, net om te hoor: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Is dit nie bevrydend nie, die almagtige God neem volle verantwoordelikheid van jou lewe wanneer jy jou volledig op Sy genade in Jesus werp. So kom jou masker af en kan jy waag om eerlik te wees.
Kom ons kyk na die tweede probleem: Afstand. Reeds het Johannes getuig hoedat hulle so na aan Jesus was dat hulle aan Hom geraak het, Hom gesien en beleef het. Nou voeg hy daaraan toe: “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” Daardie band is so sterk dat die Heilige Gees ons tot God laat roep “Abba!” wat beteken Vader.
Jesus se groot offer neem alle skeidsmure weg want Hy is die Deur en deur Hom kan ons net soos ons is, met vrymoedigheid na God gaan.
Ons derde kommunikasie-blokkasie is die gebrek aan gehoor. Die dissipels het wel in Jesus se gesig gekyk, sy stem duidelik gehoor maar tog nie regtig gehóór wat Hy sê nie. Daarvoor, sê Jesus:” Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” En daarvoor gebruik Hy die Woord wat deur Sy inspirasie en werking tot stand gekom het.
Ja, wanneer ons met `n gereinigde gemoed na die Woord gaan, dan hóór ek my Vader duidelik met my praat en raad en leiding gee, moed en vertroosting. Johannes kom sluit die gedagte af met: “Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.” Dié blydskap verdryf alle wanhoop, pessimisme, woede, ens. Dit gee `n nuwe lus vir die lewe met `n nuwe eindbestemming en HÓÓP. Amen
Ds. Pieter Strauss (Emeritus)
Bloemfontein.