Ons jubel oor u versorging - 4 Junie 2020 (Dag 70)
Lees: Levitikus 25:1-12
Volgens Levitikus 25 gee die Here opdrag dat elke sewende jaar ʼn sabbatsjaar moet wees, en elke vyftigste jaar ʼn jubeljaar! Die motivering daarvoor is om Israel se interne ekonomie te herstel. Tydens die sabbatsjaar moet die lande nie bewerk word nie. Met die jubeljaar word bykomend enige skuld afgeskryf en die land word teruggegee aan die oorspronklike eienaars – ʼn hersteljaar vir almal (Lev.25:10).
Die onderliggende bedoeling daarvan was dat almal toegang tot die natuurlike opbrengs van die land kan hê. God sorg vir almal, oud en jonk, arm en ryk. In ʼn sekere sin het elkeen van ons ʼn sabbatsjaar nodig, ʼn jubeljaar. Ons kan die rustyd gebruik om te dink aan die genade wat ons onverdiend uit die hand van die Here ontvang het. Ons gebruik somtyds die meeste van ons produktiewe ure om rond te jaag en alles gedoen te kry, en selfs ons Sondae word volgeprop met ons daaglikse take en harde werk.
Ons het vergeet om te jubel, om aan God se onderhouding te dink. Skielik word alles tot stilstand geruk deur ʼn opdrag deur die regering om by die huis te bly. ʼn Onbedoelde aantal jubel-weke lê vir ons voor om te besin! God sorg vir ons in hierdie tyd van nood!
Gebed: Here, ons jubel oor U versorging. U is koning en Here van ons lewe. Laat ons vandag weer onder die besef wees van U genade en liefde. Maak U ons rustig en gee aan ons die vrede in ons harte. Sorg vir ons, ons kinders, ons familie en ons geliefdes. Wie anders kan ons na toe vlug in tye van swaarkry? Ons loof U en die liefde van U Seun, Jesus Christus. Amen.
Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp