Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Jesus bid vir liefde in Sy kerk - 5 Julie 2020  (Dag 101) 

Lees Joh 17: Teks Joh 17:26

Ons leef in ’n genadelose en harde wêreld. Die verlede is besaai met bloedspore van oorloë en geweld.

Dit kan ook nie anders nie, want dit is ’n sondige wêreld en die grootste en duidelikste vrug van die sonde is haat, selfsug en soeke na eie eer. Maar Jesus het ook hieraan gedink toe Hy vir ons gebid het in sy Hoëpriesterlik gebed in Joh 17.

 Jesus bid vir liefde

Daarom sluit Jesus sy hoëpriesterlike gebed af met ’n bede om liefde. Hy pleit dat daar, ten spyte van die haatdraende wêreld liefde tussen Sy kinders sal wees. Want ’n gelowige moet aan die liefde geken word.

Dit is veelseggend dat sy gebed met hierdie bede afgesluit word. Want al het gelowiges alles waarvoor Christus gebid het - die Woord, die waarheid, eenheid en roepingsbesef – maar hulle het nie die liefde nie, is dit soos ’n leër wat alle toerusting het, maar nie brandstof vir voertuie nie. Al is die middele hoe effektief, sonder die liefde is dit onbruikbaar.

 Jesus het die reg om vir die liefde te bid

Jesus mag die liefde van ons eis, want dit is die teken dat ons God ken. Daarom sê hy eers weer:
“En Ek het U naam aan hulle bekend gemaak....” God is immers liefde en dit het Hy aan ons bewys, deur Christus na ons te stuur om vir ons sondes te betaal. Die goddeloses ken God nie, daarom is hulle lewe ’n betekenislose afwaartse pad. Maar om God te ken gee doel en betekenis in die lewe. Kennis van God verander ons. Dit is die vonk wat die reinigende verlossingsvuur in ons aan die brand steek. Bevryding tree sondaars in wanneer hulle kan sê: ons kén God en ons glo dit wat ons van Hom weet!

 Kennis van God bring liefde in die hart

Die gevolg van die kennis wat ons kry oor God is dat liefde die gelowige se hart en lewe vervul. Daarom sê Christus: Ek het u naam aan hulle openbaar sodat die liefde in hulle kan wees...”

Kennis van God dwing ons tot liefde vir mekaar.
Liefde is die teken van Christen wees
Liefde is die vrug van verlossing
Liefde is die kenmerk van die ware kerk
Kortom liefde is die bewys dat ons aan Christus behoort en dat die Gees in ons woon.

Dit is Christelike liefde. Hierdie liefde kom uit die verstand en hart van gelowiges wat lewe aan die hand van die Here.

Die teendeel is egter ook waar
Geloof sonder liefde is vals
Christelike getuienis sonder liefde is hol en leeg
’n Hart sonder liefde het God nog nie leer ken nie

Maar daar is ook iets soos Christendomlike liefde. Dit is liefde sonder geloof in Christus. Hierdie liefde word betuig sonder deernis en gevoel – ‘n daad, omdat dit die regte ding is om te doen. Ons sien baie van hierdie soort liefde in ons grendelstaat vandag. Baie onkerklikes en ook ongelowiges is ook besig om te gee. Ons moet dit waardeer. Maar ons moet besef dat Christelike liefde meer is as om net te gee. Daar is ‘n verskil in “om net te gee” en “om op te offer”. 

Daarom bid God ten slotte vir die regte soort liefde in die harte van sy volgelinge.

En as ons daarna luister, dan bring dit ons by die vraag:
Is die liefde van Christus nog in elkeen van ons?
Is die liefde ook die kenmerk van ons gemeente?
Aanvaar ons die gebroke mense om ons soos hulle is?
Is ons bereid om op te offer?

Ons moet erken, dat ons baie keer ver tekort skiet. Ons as gemeente en kerke oor die wêreld is ook maar gebars en gekraak en lewe sonder liefde en eenheid. Ons betoon nie altyd liefde teenoor die ander wat op ons pad kom nie en ons vergeet so maklik diegene wat deur ons te na gekom is. Of ons lewe sonder deernis – hard en ongenaakbaar.

Jesus het deernis gehad. Sy hele lewe getuig daarvan. Ook die gebed wat hy vir ons gebid het.

Die deernisvolle en liefdevolle Jesus het ook vir ons gemeente gebid sodat ons God ken, sal glo en in ware liefde sal lewe. 

Ook vandag bid Hy vir ons sodat God deur Sy Heilige Gees ons vernuwe, en oprig om uit te troon as toonbeeld van ware Christelike liefde in die wêreld.

Prof Koos Vorster 
Potchefstroom 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: