Wees nie eensaam - 5 Junie 2020 (Dag 71)
Lees: Ps 139:7-14; en Matt.28: 16-20
Ons is dikwels sonder enige aanwysbare rede eensaam. Dit word egter verder vererger as jou lewensmaat nie meer daar is nie. Die plek langs jou is leeg en daar is niemand wat dit kan vul soos jou man of jou vrou dit gedoen het nie. Die situasie word nog erger as jy geen kinders, kleinkinders, familie of vriende het nie. Miskien is hulle reeds almal dood. Of woon onbereikbaar ver. Of hulle het jou bloot vergeet. Die eensaamheid word nog erger as jy die een probleem na die ander soos voortdurende siekte, depressie, verlange, vrees, droefheid, doelloosheid ervaar. En toe gebeur van die ergste. Covid-19. Ek is afgesluit, toegesluit, weggesluit. Reeds meer as 60 dae sien ek nie ‘n kind, ‘n kleinkind, ‘n familielid, of vriend nie. My hart wil breek. Die eensaamheid oorweldig my.
Aan die anderkant word eensaamheid nie noodwendig net beleef as jou lewe nie gevul is met die teenwoordigheid van ander mense nie. Dikwels is daar baie mense saam met ons en om ons en ons is nog steeds eensaam. Die bekende teoloog Piet Naude vertel hy het die aller grootste eensaamheid beleef toe hy in Heidelberg Duitsland studeer het. Een Paasfees terwyl hy in die restaurant tussen honderde vrolike student sit, oorval verlange en eensaamheid hom in totaliteit. En toe tussen die lawaai, in ‘n naby geleë kerk, begin ‘n orrel speel: God is hier teenwoordig. Hy besef opnuut God se kinders is nooit alleen nie.
Onlangs was dit Pinkster Sondag. Ons het die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. Op hierdie dag herdenk ons dat die Heilige Gees aan ons, aan my, wat in Jesus glo, gegee is. Die Heilige Gees gee vir my die sekerheid dat Jesus al my sonde vergewe het, die ewige lewe vir my verwerf het, vir my elke dag by die Vader pleit, my lei op die regte pad, by ons is tot die voleindiging van die wêreld. Hierdie Jesus wat met sy Gees in ons woon, is by ons in ons grootste vreugde, maar ook in ons grootste smart, ons aller eensaamste oomblik. Hy kan dit wees omdat aan Hom alle mag in hemel en op aarde gegee is. Hy wil dit doen omdat aan sy liefde daar geen einde is nie.
Die Heilige Gees gee in die besonder met die Woord vir jou die geloof, die sekerheid om te aanvaar dat God oral en altyd by jou teenwoordig is. As jy in Jesus glo kan jy saam met die Psalmdigter uitroep:
“Klim ek op na die hemel, is U daar,
Gaan lê ek in die doderyk,
Is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste,
Of gaan woon ek in die verre weste,
Ook daar lei u hand my,
Hou u regterhand my vas” (Ps.139:7-10)
Ja, die Heilige Gees gee vir ons die geloof, die sekerheid dat God selfs in die allergrootste eensaamheid by ons is. Ons moet egter ook self daaraan werk. Ons moet voortdurend bid dat die Heilige Gees in ons sal bly. Ons moet ons verdiep in die Woord van die Here. Maar ook soos Dag Hammarskjöld gesê het: “Bid dat ons eensaamheid ons sal aanspoor om iets te vind om voor te lewe – iets so groot dat dit jou van jouself sal laat vergeet, en so edel dat jy ook bereid sal wees om daarvoor te sterf” (Die groot aanhalingsboek bl. 54).
Prof. Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria