Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Maak my 'n voorbeeld - 6 Julie 2020  (Dag 102) 

Ps. 86:17 Maak my 'n voorbeeld van u goedheid...dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

Hoe mens jou krisisse hanteer, word deur ander mense waargeneem. Hulle kyk na hoe ons optree, na waaroor ons praat en hoe ons dit doen. Hoe ons oor sake dink word sigbaar in ons doen en late. Ons kan dit nie wegsteek nie. Hulle vorm 'n eie denke oor jou veral as jy bely dat jy 'n Christen is. Jy is soos 'n vis in 'n visbak - altyd blootgestel.

Om dit wel deeglik te besef, is vir ons as gelowiges van lewensbelang. Hoekom? Omdat God se Naam op die spel is. Ons is deur ons geloof in Jesus Christus aan Hom verbind. Ons is Sy verteenwoordigers op aarde in die gemeenskap waar ons leef en werk, speel en ontspan.

Ons is blootgestel aan die uitdagings van die lewe, aan sy soet en sy suur. Ons verkeer voortdurend maar in 'n soort stryd om lewe en dood. Versoekings, sonde en die magte en werkinge van die bose, is deel van ons lewens elke dag. Die inval van die koronavirus het ons op 'n harde en verskriklike manier aan die werklikheid waarin ons lewe, kom herinner.

Maar hoe hanteer mens so iets op die verskillende vlakke van die lewe? Wat kan ons as gelowiges in die Woord van God daaroor leer? Dawid gee vir ons 'n voorbeeld in sy gebed (Ps. 86). Hy verkeer in ʼn krisis. Hy is 'n man met nood. Hy voel homself ook hulpeloos. Sy lewe is in gevaar. Hy moet: van die toneel verwyder word. Wat doen hy? Soos dit 'n kind van God betaam, neem hy in, gebed sy toevlug na die God aan wie hy behoort, die God van wie hy verklaar: “Daar is geen God soos U nie, Here... red my want U is my God, Op u vertrou ek.” Hy pleit dat hierdie God sal luister. Hy vra dat die Here hom sy pad sal leer, hy wil in die waarheid wandel en dat die Here hom sal help om in toewyding aan Hom te lewe. Hy verstaan dat hy nie sander die Here se hulp die aanslag van die vyand sal kan afweer nie. Daarom die treffende versoek: Maak my 'n voorbeeld van U goedheid, sodat die wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en my uitkoms gee.

Ons sit met ons eie vyande waarvan die koronavirus sekerlik as die grootste werklikheid beleef word. Die vrese en. onsekerhede wat dit meebring, vlek weer ander probleme in ons menswees oop: sosio-ekonomies, fisies, sielkundig en geestelik - waar ons geloof getoets word. Persoonlik kan ons nie sondermeer die sake oplos nie. Wat ons nodig het, is dat die Here 'n bewuste rol vir ons in ons stryd moet speel. Alles kom dan daarop neer dat ons, soos Dawid, die Here sal vertrou om ons deur sy Gees te lei en by te staan met die geestelike en psigiese krag wat nodig is. Hiervoor moet ons in Hom in geloof daarvoor vertrou. 

In elke situasie en saak moet ons in gebed na Hom gaan en soos Dawid pleit dat Hy sal luister en help. En dit moet vir diegene daar buite 'n voorbeeld wees van God se goedheid en hulle aanmoedig om in Hom te glo:, en op Hom te vertrou vir die krag wat hulle nodig het om deur hulle krisisse te kom - soos dit, danksy God se goedheid, by ons die geval is. Met God kan ons elke vyand oorwin! Laat Hom toe om van jou 'n voorbeeld van sy goedheid te maak.

Laat God waarlik God wees in jou lewe!

Prof. Kobus Kellerman (Emeritus) 
Gordonsbaai.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: