Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
“Alles is reg, al is alles verkeerd”  - 6 Junie 2020  (Dag 72) 

Galasiërs 4:13: Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die Evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het.

‘n Predikant vertel van sy beste vriend wat kanker gehad het. Hy het, toe dit met die vriend baie sleg gegaan het, hom in die hospitaal besoek. Toe hy na besoektyd weer loop, toe groet sy siek vriend hom met die woorde “Alles is reg”. Dit was ook sy laaste woorde, want kort daarna is hy oorlede. ‘n Vriend van my se pa is ‘n tydjie gelede oorlede. My vriend het nog minute van te vore by hom gesit en gesels en vir hom gevra: “Hoe gaan dit?” Hy het sy duimpie so in die lug gehou en gesê: ”Alles is reg!” Hier is dus twee gevalle waar mense sê “Alles is reg”, terwyl dinge op die oog af alles verkeerd is. Of, is dit moontlik dat alles kan reg wees, al is alles verkeerd?

Daar is baie gissings oor wat die siekte was wat Paulus in ons teks noem. Dit is egter spekulasie en dit is nie die punt wat Paulus wil maak nie. Die punt is dat dit dié siekte was, wat hom die geleentheid gegee het om die evangelie aan die Galasiërs te bring.

Oor die algemeen sal mense sê dat om siek te wees is ‘n groot nadeel. Siekte diskwalifiseer jou. As jy siek is, is alles verkeerd. Maar Paulus sê “Nee! Alles is reg, al is alles verkeerd. Dit is juis deur my siekte dat ek die Evangelie kon verkondig”.
As ons kyk na die Covid-19 deurdrenkte wêreld en na ons eie lewens, dan is daar waarskynlik heelwat dinge wat die lewe vir ons bitter maak. Dalk ook ‘n siekte soos dit met Paulus die geval was. Joni Erickson Tada was ‘n Olimpiese duikkampioen. In ‘n ongeluk het sy egter haar nek gebreek. Daarna het sy die Here Jesus ontmoet en het sy vandag ‘n uiters geseënde bediening, ten spyte van die feit dat sy ‘n parapleeg is. Sy sal ook met oortuiging kan sê: “Alles is reg al is alles verkeerd”.

Dit is as gevolg van die Covid-19 pandemie wat hierdie dagstukkie geskryf is en dat jy dit kan lees. Wil jy nie ook vandag jou tekortkominge, jou leed en jou beproewings, in die Here se hand laat nie en bely: “Here, alles is reg, al is alles verkeerd”.

Gebed: Here, ek bring al my tekortkominge en beproewing na U. Gebruik dit in U koninkryk sodat ek ook in opregtheid kan bely: “Alles is reg, al is alles verkeerd”. Amen

Dr. Enrico Casaleggio
Bloemfontein
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: