(Biddag vir Ekologie)
Sondag is ‘n spesiale biddag vir die ekologie. Dit is eintlik so ironies. ‘n Biddag vir die ekologie ten tye van een van die moontlik grootste pandemies in ons wêreld se geskiedenis en ons leeftyd!
Dis is juis daarom ‘n Kairos tyd, ‘n tyd van waarheid om tot ons sinne te kom. Ons het altyd ‘n “volmaak-rol” vervul in plaas van ‘n “heelmaak-rol” soos Prof Christina Landman sê. Vul die aarde en heers daaroor…
Ons aarde is stukkend. Ons, wat vir die omgewing as God se skepping, moet omgee, is nou gedwing deur die grendeltyd en korona virus om ons hande vuil te maak sodat ons aarde ’n blaaskans kan kry.
Die mens is volgens wetenskaplikes verantwoordelik vir 75% van die gebeure wat ons so maklik klimaatsverandering noem. Ons is die primêre oorsaak daarvan. Ons kan gerieflik op aarde voortbestaan teen ‘n gemiddelde temperatuur van 18 grade Celsius. Die aarde se temperatuur styg egter drasties en kan binne dekades 1-6 grade Celsius hoër wees. Ons aarde is nie instaat om dit te hanteer nie. Ons as mensdom nog minder.
Die spoed van klimaatsverandering is vinniger as wat ons verwag het en die impak daarvan is groter as wat ons dink. Ons verbruikerskultuur en vinnige lewenstyl verleen ekstra spoed en momentum daaraan.
Daarom ons tema: Gaan oop oë deur die lewe en bevestig jou hoop! Die Psalmdigter bevestig dit as hy sê: “Mag mense die Here altyd bewonder! Mag die Here alles wat hy gemaak het, geniet!”
‘n Aardesorgbediening en ‘n herfokus op die ganse skepping, is dus van kardinale belang.
Amos, die veespekulant, veeboer van die Ou Testament praat al 8 eeue gelede oor die wanverhoudinge asook die miskenning van die ekologie en geskapenheid. Hy het heelwat rondgereis in sy tyd as profeet, van die omgewing van die tempel in Samaria tot in die afgeleë platteland asook die dorre woestyngebiede.
Hy het oop oë deur die lewe gegaan. Sy werk was sy passie! Sy volk het aan hulleself gedink. Hulle was so selfgesentreed, gefokus op hul eiebelang. Hy moes hulle gereeld daaraan herinner aan wie God is.
Hy sê dan ook weer eens vir hulle dat hulle ontslae moet raak van hulle eie eer en selfgesentreerdheid en dat hulle rondom hulle moet kyk. Dink na oor wat julle sien! Hy gee vir die volk en so ook vir ons vandag tydens die angs, onsekerheid en twyfel wat die pandemie saai, weer hoop. Hy verskaf net weer ‘n duidelike blik, uitsig en fokus op die getroue en grote God.
Hy sê in Amos 4:13 - “Jy moet besef: Hy wat berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, sy Naam is Here, almagtige God!” Dié almagtige God bevestig dat jy oop oë deur die lewe moet gaan. As jy fyn luister en dit doen, dan word jou hoop bevestig deur Sy liefde en trou!
My/ons ge-aardheid word dade as daar weer passie is in die alledaagse omgang met ons Vader se wonderlike skepping.
Amos sing oor sy eie ge-aardheid as hy sê in Amos 5:8 - “Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here”. Die grote God gee vir klein mensies in sy groot skepping om. Omdat Hy vir hulle soveel omgee moet hulle weer vir die ander klein mensies asook vir sy skepping omgee.
Indien nie, amputeer ons onsself van sy geskape kosmos. Dan gaan die “nuwe normaal” tydens en ook na die korona virus vir ons geen hoop bied en inhou nie. Psalm 104 handel oor God en sy kosmos. God wil juis, in die week van die biddag vir ekologie, geloof word vir die bewoonbare en leefbare ruimte wat Hy in sy skepping aan ons bied. Ons as sy medewerkers en alles wat leef bring aan Hom die eer!
Ons kan maar net saam bid: “Here red U mooi aarde. Doen dit dringend, asseblief! Help my en vir elkeen van ons om ‘n bydrae te lewer tot die bewaring en instandhouding van U skepping as ‘n erkenning van U heerskappy oor alles”! Maak asseblief my oë weer oop om U in die Skepping raak te sien, en dankie dat U my hoop ook weer bevestig vandag. Amen.
Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria