Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Jesus versorg Sy kerk - 8 Julie 2020  (Dag 104) 

Lees: Matteus 14:20-32.

1. Jesus versorg die skare. (20, 21). Die siek en honger mense het sy maagsenuwees laat saamtrek. Met sy bomenslike vermoëns het Hy siekes genees en het Hy deur sy dissipels ʼn suksesvolle voedingskema geloods, hulle beperkte voorraad ten spyt. Hoe genees en voed Jesus mense vandag?

2. Jesus versorg sy kerk (22). As die Leier bo alle leiers, bou Jesus sy werkspan deur in-diens opleiding. Is jy deel van sy span? Mooi. Wees gewaarsku: die uitdagings mag groter word! Die piekniek is verby. Hy bondel sy manne in ʼn boot en stuur hulle op ʼn oorlewingsvaart vir geloofsopbou. 

3. Jesus versorg Homself. (23) Jesus se werk tap sy krag. Sy binnekamer is ʼn buitekamer. In die oop veld, op ʼn bergtop, alleen met sy Vader. Vervulling van ons roeping vereis ʼn gedissiplineerde beweging na binne en weer na buite. Na binne vir afsondering met God. Na buite om te dien en te getuig. Het jy in die grendeltyd iets beleef van Ps. 131? “Waarlik ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ʼn gespeende kind by sy moeder.” Wat gaan daarop volg? Waarheen stuur Jesus jou om te troos, te genees en te voed?

4. Jesus help sy kerk in nood (24-26). Sy kerk dobber op die onstuimige wêreldsee waar wilde storms woedend slaan. Soos die dissipels onderskei gelowiges nie altyd Jesus se teenwoordigheid in die storms nie. In ongeloof en bygeloof word gevare aan bonatuurlike magte of konkelende bose mense toegedig. 

5. Jesus verstaan sy kerk se vrese (27). Soos met die siek en honger skare het Hy deernis met ons ontsteltenis oor byvoorbeeld die wêreldwye virusbesmetting. Hy troos en bemoedig ons deur sy Woord. Hy begelei bang mense deur ramptoestande.

6. Jesus leer sy kerk op Hom vertrou (28, 29). Jy kan, soos die ander manne in die boot, geloofstoetse probeer vermy, of jy kan gelowig op Jesus se uitdagings reageer, soos Petrus aanvanklik. 

7. Jesus berispe sy kerk oor klein geloof (30, 31). Is jou oë gerig op die Wie of op ʼn wat? Sien jy op na God, of staar jy jou blind teen gevare? Laat ons soek na en reageer op gekontroleerde gebeure en wetenskaplike inligting en sorg dat ons nie meegevoer word deur die gegons op sosiale media nie. Laat ons, as Bybelgelowiges, ʼn voorbeeld stel van gelowige toekomsvertroue. 

8. Jesus laat deel sy kerk in sy vrede (32). “Hulle het toe in die skuit geklim en die wind het gaan lê.” Die vrede wat Jesus in gebed van sy Vader op die berg ontvang het, bring Hy na sy kerk. Laat ons op Hom wag. Hy kom klim by ons, in ons omstandighede in. Sy teenwoordigheid is ons vrede.

9. Jesus verdien sy kerk se aanbidding (33). Beproewings bring ons terug na die kern van ons Godsdiens: dankbare aanbidding van Jesus, die Seun van God.

Dr. Willem Fourie 
Strand
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: