Lees: 2 Kor. 1:3-11
Om "op moedverloor se vlakte" te wees, is om 'n stuk dood in jou gemoed te ondervind. As jou horison pikswart is. Dis soos 'n staalhek wat voor jou toegeklap word. Ek sal nie verbaas wees nie, as daar baie mense is wat in so 'n toestand verval het of hard daarteen moet veg.
Kyk wat het alles die laaste, kom ons vat die laaste tien jaar, gebeur het in ons land.
Groot dele van die land was onderhewig aan 'n uitmergelende droogte. Die aasdiere was gelukkig met al die karkasse in die veld. Water het bitter min geraak sodat die wolk van 'n Zero-dag oor die Wes-Kaap gehang het. Die werkloosheidsyfer het onheilspellend geklim. Armoede, woedende betogings en 'n gees van diefstal en vernielsug, moorde in gesinne en ander kwesbare mense was ons "daaglikse brood."
Toe begin ons sien hoe die minister van Finansies sweet met 'n begroting wat alle uitgawes van die staat moet dek. Toe begin lekkasies ontstaan oor wat aan die gang is: Brawe verslaggewers krap oral bronne oop wat die aaklige waarheid begin ontbloot dat ons land besmet is met die virus van korrupsie, wanadministrasie, voeding van buitelandse stropers wat hulleself help met die hulp van goedgeplaaste mense wat 'n vinger opgesteek het met "so help met God". Ons word 'n land van skande. Die ekonomiese wa se wiele kraak en slinger. Mense verloor moed. Armoede is oral sigbaar. Daarby: Ons word tot 'n rommelstaat afgegradeer, soos, 'n munisipale stortingsterrein.
Dan die onverwagte. 'n Klein onsigbare virus dring alle lande binne. 'n Pandemie. Die pogings van die regering om die onsigbare vyand te beteuel, beteken ook dat sake moet sluit. Almal moet huis toe (as jy dit geskikte huise kan noem).
Grendeltyd. Derduisende is sonder werk. Dit beteken sonder geld en sonder lewensmiddele. Duisende staan in rye om kospakkies te ontvang. Kan dit ooit vir lank volgehou word? Klein en groot sakeondernemings knak.
Skuldlaste groei. Die reaksies van die bevolking is 'n mengelmoes van woede, verwyt, moedeloosheid, radeloosheid en magteloosheid. Galgehumor en pogings om die gemoedere te salf met skynvertonings van geluk en feestelikheid en grappies. Elkeen het sy eie manier om die vrees, moedeloosheid, onrus, twyfel te hanteer.
Iemand het my aandag gevestig op 2 Kor 1:3-11. Die apostel van die Here begin sy brief met die versekering dat die Vader van ons Here Jesus Christus 'n Vader is wat Hom ontferm en in elke omstandigheid moed gee(v.3,4). Hierdie tema loop dwarsdeur tot vers 11. Paulus praat eers oor die bemoediging van die gemeente onder die lyding wat hulle verduur. Ons ly ter wille van Christus, maar daar is terselfdertyd 'n oorvloed van bemoediging deur Christus. Maar die apostel het ook self moeilikhede ondervind in sy vorige arbeidsveld. Die swaar was bo sy kragte tot so 'n mate dat hy die hoop om te bly lewe laat vaar het( v 8,9). Al wat tussen hom en totale moedeloosheid ingetree het is sy geloof in God wat die dooies opwek tot die lewe(v. 9).
Wat bedoel die apostel hier? Dat al wat ons nodig het as swaarkry en verlies ons teen die grond wil druk, ons moet hoop op die uiteindelike opstanding? Nee, Paulus vleg die hoop op die uiteindelike opstanding en die hoop te midde van alle verliese en teleurstellings en pyn van hierdie lewe, inmekaar (v.10). Ons lewe hier, die lewe wat God ook wil en aan ons as voorreg gegee het, moet ook geleef word in die vertroue dat Hy 'n Vader is wat Hom ontferm, en ons in elke omstandigheid moed gee(v.3,4).
Jy het miskien in hierdie Covid-19 drama baie seergekry. Groot stoflike verliese gely, ideale is verpletter, verhoudinge binne gesinne geskaad, werkverlies. En vrees dat jy 'n virus-infeksie nie sal oorleef nie. Noem maar op wat jou seergemaak het in hierdie tyd. Is jy bereid om die lewe wat God aan jou toevertrou het, voort te sit? Het jy die moed om die skade te herstel? Gaan in vertroue na die Vader van Christus wat 'n God van ontferming en bemoediging is. Reik uit na ander in hulle moeilikhede. Gee raad en soek raad. Bid vir die wat saam met jou ly onder die huidige omstandighede. Deur te leef uit die liefde van die God van hoop , nou en vir altyd, is ons oorwinnaars.
Ds. Alwyn du Plessis (Emeritus)
Stellenbosch