• “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy gee vir julle om” (1 Petr.5:7).
Hoeveel bekommernis het jy? Daar is nie ’n enkele mens wat nie al een of ander tyd in sy lewe bekommerd was nie. Miskien sit jy hierdie oomblik self met ’n klomp kommer wat jy nie kan hanteer nie. Want jou bekommernis gaan die meeste van die tyd oor dit wat jy nie kan verander nie of dit waaroor jy geen beheer het nie. En aan die einde ontdek jy dat dit waaroor jy jou bekommer het, nooit gebeur het nie. Die woord “bekommer” beteken letterlik: om jou te verdeel. Dit maak die deur oop vir verkeerde gedagtes wat by jou inkom asof dit reeds gebeur het. Jy kyk van God af weg, wie se hulp vir jou gewaarborg is, en laat jou kyk na valse reddingstoue in jou pad, wat uiteindelik struikelblokke word.
Bekommernis is nie iets wat jy alleen kan dra nie, want dit gaan maklik oor in stres en depressie, en dit druk jou plat. Dikwels gebruik die duiwel dit om jou van God weg te trek, want hy is soos ’n brullende leeu wat soek om jou te verslind (:8). Maar die HERE gee vir ons krag om op te staan en te oorwin. Sy “kragtige hand” hou ons elke dag vas en help ons om die duiwel teen te staan en om standvastig in die geloof te bly.
Daarom nooi Hy ons: Werp al jou bekommernis op My, want Ek gee vir jou om (vgl.5:7). Lees dit weer: “ÁL jou bekommernis”, groot of klein, bietjie of baie…. alles. Al jou sorge en angste, jou vrese en laste. Moet niks self probeer dra nie, en moet niks terughou nie, want dit word so maklik ’n opening waardeur die duiwel inglip om ’n houvas op jou lewe te kry.
Onthou, die HERE gee vir jou om, Hy sorg vir jou en Hy hou wag oor jou. Lê elke las op Hom,
Hy sal jou ondersteun;
Hy sal nie toelaat dat jy wankel nie
(vgl.Ps.55:23).
Lê jou vandag in sy “kragtige hand”.
Ds. Attie Beetge
Stellenbosch