Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Here, dat ek weer kan sien - 1 Augustus 2020 (Dag 128) 

Toe Jesus in die omgewing van Jerigo kom, sit daar langs die pad ‘n blinde man en bedel. Toe hy skare hoor verbyloop, het hy gevra wat aan die gang is. Hulle het vir hom gesê dat Jesus, die Nasarener daar verbyloop. Toe roep hy hard uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Die mense wat voor geloop het, het hom berispe dat hy moet stil bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid ontferm U oor my!” Jesus het gaan staan en beveel dat hy na Hom gebring word. Toe hy nader kom, vra Jesus hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy het geantwoord: “Here, dat ek weer kan sien.” Jesus het vir hom gesê: “Sien weer! Jou geloof het jou gered.” En onmiddelik kon hy sien. Hy het Jesus gevolg en God geprys. Die hele volk wat dit gesien het, het God geprys. Lukas 18 – 35 – 43, Direkte Vertaling.

“Here, dat ek weer kan sien.”

Nadat ek operasies aan beide my oë moes ondergaan, het ek opnuut bewus geword van wat dit beteken om te kan sien. Ons, mense, waardeer eers iets, as ons dit verloor het, gelukkig ook as ons dit tydelik verloor het. Ons moet ons sig waardeer en dit besonder koester. Vele het nie hierdie voorreg nie. ‘n Blinde gemeentelid het by geleentheid vir my gesê dat hy so uitsien om in die hemel te kan kom, want dáár sal hy kan sien.

Maar dit geld ook geestelik gesproke vir ons. “Here, dat ek weer kan sien.” Met my oë tydelik toegemaak, het ek nog meer bewus geword van die teenwoordigheid van die Here God. Ek kon niks anders doen nie, as om te bid. En ek het bewus geword van die onbeskryflike genade van God, by name in die soenverdienste van Jesus Christus. 

Mag ons almal in hierdie grendeltyd opnuut met oorgawe en toewyding voortgaan met die beoefening van ons persoonlike stiltetyd, in die wete ons hemelse Vader is by ons teenwoordig.  

Mag elkeen wat VDM (Bedienaar van die Goddelike Woord) agter sy of haar naam mag skryf, die ENIGSTE ware Boodskap van Hoop, naamlik die Verlossing deur die sterwe en opstanding van Jesus Christus, verkondig, sodat elke hoorder Hóm weer kan SIEN, sodat hulle geloof hulle kan red, en hulle Jesus kan volg en God geprys.

Ds. Pieter Strümpfer (Emeritus) 
Montananpark, Pretoria.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: