Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Dink en doen - 1 Mei 2020  (Dag 36) 

LEES: PSALM 40

Dink is ‘n uitsonderlike vermoë. Dink is nie voldoende nie. Dink vereis dat iets gedoen moet word. Deur te dink én te doen, word hoop gebore!

Vers 13 bied die agtergrond: Dawid bely dat ramp op ramp hom oorval het. Rampe ontstaan deurdat iemand anders verkeerd optree, en onskuldiges die vrugte daarvan pluk! Dawid bely ook dat sy ongeregtighede hom ingehaal het. Hyself het verkeerd opgetree, en nou pluk hy die vrugte daarvan. Gesamentlik bedreig dit sy persoonlike lewe en huishouding, sy begaafdheid as digter en musikant, sy bekwaamheid as koning en oorlogsheld.

Ons word ook bedreig: Rampe op mediese én finansiële gebied. Die mensdom se ongeregtighede is besig om die mensdom in te haal! Dis asof Dawid namens ons uitroep:
“Ek weet nie meer waarheen nie.
Hulle is meer as die hare op my kop;
ek is moedeloos.”

Te midde hiervan inspireer die Heilige Gees vir Dawid om twee merkwaardige insigte neer te pen:

Ons kan hoop put uit vers 6:
“Here, my God,
U het baie wonderlike dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.”

Terwyl ons Here altyd aan ons dink, doen Hy ook iets! Sodoende bewerkstellig Hy dikwels onverwagte uitkomste. Wanneer Hy dink én doen, is sy doel daarmee om sy heilige Naam te beskerm én om aan sy kinders `n toekoms te bied. Dít bied sekerheid en verleen hoop!

Ons kan ook hoop put uit vers 18:
“Ek is hulpeloos en arm,
maar die Here dink aan my.
U is my hulp en my redder!”

Ons Here is in staat om altyd aan die ganse mensdom te dink, én om terselfdertyd ook aan jóú te dink! Dis ter wille van jóú dat ons lewende Vader (Johannes 6:57) besluit het om sy Seun op te offer, en dat sy Seun deur lyding heen geleer het wat gehoorsaamheid is (Hebreërs 5:8)! 

Die feit dat die Here dink, én dinge doen, plaas ‘n verpligting op ons: Dis ons plig om aan ons geliefdes en medemens te dink, én om aan ons President en ander leiers te dink. Ons sal in die lig van Kolossense 1:13-23 moet nadink oor ons verantwoordelikheid teenoor die skepping en veral die kerk as liggaam van die Seun. Hierdie nadenke móét uitloop op toepaslike dade. Die vlam van hoop is aan ons toevertrou!

Dis ons plig om Dawid se oproep in Psalm 40:17 in vervulling te laat gaan:

“Laat almal wat by U hulp soek,
jubel en bly wees oor U,
laat dié wat op U staat maak,
altyddeur sê:
‘Die Here is groot!’”

Dr. Willus Knipe
Faerie Glen
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: