Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
IKABOD, KLAAR, VERBY (Dit is volbring)  - 10 April 2020  (Dag 15) 

Sedert die sondeval leef ons in ‘n wêreld van pyn, smart en ellende. Ons sien en beleef dit elke dag. Nou, seker meer as ooit vantevore in ons lewe. Die Koronavirus het reeds oor die miljoen mense getref, duisende het gesterf, hongersnood wag vir miljoene, vorentoe lyk alles vir ons duister.

Nie net in ons tyd nie, maar deur die eeue was nood en ellende aan die orde van die dag. Kom ons lees 1 Sam 4:16(b)-22. Nadat die volk van die Here, die Israeliete, hierdie geveg teen die Filistyne verloor het, gee die vrou van Pinehas, haar naam word nie eers genoem nie, geboorte aan ‘n kind. Sy noem die kind Ikabod, sonder eer. Israel is sonder eer, die ark van God, simbool van God se teenwoordigheid, is weggeneem van hulle. Dit is klaar, dit is verby. Klaar, verby met Eli, met Hofni, met Pinehas, met die hele Israel. God is weg. God is dood. Daar bly niks goed oor nie. Die toekoms is donker. Daar is niks om meer voor te lewe nie.

Van hierdie hopeloosheid, Ikabod situasie lees ons op verskillende plekke in die Bybel. Lees gerus Ps.22, die geskiedenis van Job, van Paulus. Hoeveel keer het ons egter nie self gehoor of gesê: dit is klaar, verby. Klaar, verby met ons land, met ons volk, met ons kerk, met ons ouers, met ons kinders. Dit is verby met my … ek is oud, ek is siek. Die ergste is ons voel party dae selfs of God weg is, dood is. Daar is vir my geen toekoms, net die dood.

Maar, danksy, die volheid van die tyd het ‘n wonder gebeur. God het ingegryp in die smart en pyn van die wêreld. Hy het sy Seun gestuur om alles te kom regmaak. Daar was hoop. Dit was egter van korte duur. In plaas daarvan dat Jesus triomfeer hang Hy aan ‘n kruis, in plaas van ‘n goue kroon, ‘n doringkroon. Spykers in hande en voete. In plaas van Imanuel: God met ons, hoor ons “ My God, my God, waarom het U my verlaat” Toe blaas Hy die laaste asem uit. Dit is Ikabod, verby, ook Hy het verloor. Nee in plaas van Ikabod roep Hy uit “tetelestai” die woord vir dit is volbring. Dit is baie, baie belangrike woorde. Van die belangrikste woorde in die Bybel. As Jesus uitroep: Dit is volbring sê Hy daarmee: Ek het gedoen waarvoor Ek gestuur is. Ek was gehoorsaam aan my Vader tot die einde toe. Ek het betaal vir die sonde van die wêreld. Ek het sondaars gemaak tot God se kinders. Vir my en vir jou. Die woorde van Pinehas se vrou is nou omgekeer. Dit is nou nooit meer Ikabod, klaar verby met ons nie. In Jesus deur die Heilige Gees is God nooit meer weg nie maar altyd by ons in vreugde maar ook in die donkerste nag, te midde van die Koronavirus voor ons en agter ons en oral.

Prof. Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: