Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
In die Here se hand is veiligheid - 10 Augustus 2020 (Dag 137) 

Die volk van die Here is moedeloos en hooploos. Hulle is ver van Jerusalem en die tempel waar God op 'n besondere manier teenwoordig is. Hulle wonder wat van God se verbonds-beloftes se vervulling geword het. Het Hy hulle vergeet en hulle alleen gelos, oorgegee aan die werke van heidene?

God se profeet, Jesaja, het 'n besondere boodskap van God. Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalm gegraveer. Ek sien jou mure altyd voor my. Jesaja 49:14-16

Die profeet gebruik mensetaal vir beelde en vergelykinge. Hulle voel soos 'n moeder wat al haar kinders verloor het. God se aard en werkwyse word met menslike handewerk vergelyk. 'n Hand is naby aan, deel van, die een wat handewerk verrig. God is selfs in Babel by Sy volk. Hy het hulle nie vergeet nie. Hy sal hulle na Jerusalem laat terugkeer en die mure sal herbou word. Hy sal getrou wees aan Sy verbondsbeloftes en die beloofde Verlosser, die Messias, sal uit die oorblyfsel van Israel as deel van God se hande werk gebore word en 'n ewige verlossing bewerkstellig. In die hande waarmee God die beloftewerk doen, is hulle name geskryf. Is hulle veilig.

Dit wat God wou doen en die manier waarop Sy wil volvoer sou word, word deur die Here Jesus bevestig; ”Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” Joh 3:16. Hy verduidelik: “Want dit is die wil van My Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan.” Joh 6:40.

Ná Sy opstanding wys Jesus die littekens van Sy hande, wat aan die kruis gespyker was, aan Sy dissipels. Johannes 20:20. Hulle kon sien dat dit dieselfde Persoon is as die Een wat gekruisig is, gesterf het en begrawe is. Met Sy hemelvaart het Jesus Sy dissipels uit die stad gelei. Weg van die tempel waar die hoëpriester gewoonlik die volk geseën het. Jesus wat vir ewig Hoëpriester, volgens die orde van Melgisedek, is, se seën word nie net by die tempel gegee nie. Dit is ook nie aan tyd gebonde nie. Dit was 'n blywende seën wat Hy geskenk het terwyl Hy in die hemel opgeneem is. Waarskynlik die seën in die woorde van die hoëpriesterlike gebed. Lukas 24:50 & 51. Met die seën beloof Hy dat dit met hulle goed sal gaan. Die Here sal hulle seën en hulle beskerm (hulle sal veilig wees), die Here sal tot hulle redding verskyn en hulle genadig wees, die Here sal hulle gebede verhoor en aan hulle vrede gee. Num 6:24-27.

Later sou Johannes skryf dat hulle, die apostels, Jesus met hul eie oë gesien het en aan Hom gevat het. Daardie Jesus is die Christus. 1 Johannes 1:1. Die Goeie Herder. Die ingang vir Sy skape. Wie deur Hom ingaan, sal gered word en die lewe in oorvloed hê. Johannes 10. Die Goeie Herder waarvan Dawid vertel het. Hy gee vrede. Hy gee nuwe krag. Hy behandel my soos 'n eregas. Hy gee rus. Hy oorlaai Sy eiendom met hartlikheid en goedheid en liefde. Hy begelei die gelowige deur donker dieptes. Ja, in Sy deurboorde, seënende hande is die gelowige veilig.. (Psalm 23). Dit is ook dié hand wat in die hemelse troonkamer die boekrol uit die regterhand van God ontvang het vir die finale volvoering van God se wil. Openbaring 5:5.  

Ja 'n veiligheid wat nie beteken dat alles altyd goed sal gaan nie. Gelowiges is blootgestel aan die aanslae van die duisternis, die bose geeste in die lug wat stukkende mense in 'n stukkende wêreld as werktuie gebruik. Efesiërs 6:12. Ook nie dood of lewe of engele of magte of teenwoordige of toekomstige gebeure of kragte of enigiets anders in die skepping nie. Niks kan die gelowige losruk uit die hand van Jesus Christus nie. Johannes 10:28.

In God se hande is jy veilig. Te midde van die dood, deur die lewe van Jesus Christus omring. Het jy Hom al gesien? Ken jy Hom as jou verlosser?

Ds. Flip Fourie
George. 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: