Gebedswoorde soos wierook - 10 Julie 2020 (Dag 106)
Mag my gebed voor U wees soos ’n wierookoffer,
die uitstrek van my hande soos ’n graanoffer in die aand.
PSALM 141:2
Gebed is om geestelik in die allerheiligste van God in te gaan, voor sy troon te kniel en met Hom te praat. Gebede laat aarde en hemel ontmoet. Geen gebed mag sommer-so wees nie. Die uniekheid, die grootsheid, die omvang en die diepte daarvan behoort altyd besef te word.
In die tyd van die ou verbond, voor Christus, het die voorgeskrewe rituele met aanbidding die volk opgevoed om die grootheid en heiligheid van God te besef. In elke kultiese handeling met offers en gebede was jy bewus daarvan.
Ons is bevoorreg en geseënd om te mag bid in die Naam van Jesus Christus. Die nuwe verbond gee nuwe voorregte, want Jesus het vir ons ‘n nuwe pad oopgesterf. Daarom mag ons bid, God vereer met woorde, by Hom pleit in nood, Hom prys en dank in voorspoed.
Maar nooit mag gebed oppervlakkig, afgerammel of onnadenkend wees nie. Ons behoort ons gebedswoorde te weeg. Dit vind ons in Psalm 141. Die bidder wil nie met woorde wat onaanvaarbaar is met God praat nie. Hy vra: “Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.” (vers 3). Hy wil nie soos die goddelose klink nie. Sy gebed moet met gepaste woorde voor die troon van God gebring word.
Hy vergelyk sy gebed met ‘n WIEROOKOFFER. In Eksodus 30:34-38 word die voorskrif vir hierdie gewyde offer gegee. Geurige speserye moet in gelyke hoeveelhede gemeng word, hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. Die fyn poeier word voor God verbrand as baie spesiale offer met ‘n uitsonderlike reuk. Dit mag net as gebedsoffer gebruik word, aan God gewy. So wil hy sy gebed aan God offer, met spesiaal gekose woorde.
En ons? Ons behoort ook so met goeie voorbereiding te bid. Maar uit onsself sal ons nooit waardig voel om met die heilige God te kommunikeer nie. Ons het egter die wonderlike seën in Jesus Christus. Ons gebede hoef nie self waardig te wees voor God nie. Christus Jesus het alles vervul – Hy is ons Middelaar. Hy dra ons gebede volmaak oor aan die heilige God. Selfs wanneer ons nie reg weet hoe om ons woorde te kies nie, tree die Gees vir ons in (Rom 8:26 ev).
Laat ons dus ag gee op die regte gesindheid, die begeerte om ‘n gebed soos wierook aan God op te dra. Maar terselfdertyd met die vaste geloof in Jesus Christus, in wie se Naam ons die ryke voorreg het om te bid.
Dr. Callie Opperman (Emeritus)
Swakopmund