Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hoe arm kan ryk nie wees nie!  - 10 Junie 2020  (Dag 76) 

Lukas 12:20  "Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?"  

Jesus leer ons in die gelykenis: Skatryk, maar sonder God, kan brandarm wees. Luister ons na finansiële berigte, besef ons hoe waar is sy woorde. Dit het baie goed met hierdie man gegaan, skatryk. Hy was bekommerd oor waar hy sy groot oeste sou bêre. Nadat hy heel nuwe skure gebou het, kom sy ware kleure uit. Hoe selfversekerd! ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ (Kliek en lees LUKAS 12:13-21). Maar hoe dwaas! Jy het geen beheer oor jou toekoms of besittings nie. Jy kan sterf en wie kry alles?

Hierdie skatryk man was brandarm. Baie besittings op aarde, maar nie ryk in God nie. Ryk in God beteken dat ons deel het aan die skatte van sy hemelse ryk. Jy behou jou rykdom, of jy hier op aarde leef of in die Here sterwe. Jou volle erfenis in Christus ontvang jy in die hemelse heerlikheid. Jesus het mens geword om arm te wees. Met niks op sy naam het Hy aan die kruis gehang. Selfs geestelik Homself leeg gemaak. So kan ons, wat van alles gestroop behoort te word weens ons sonde, met God se rykdom gevul word. Dis die ewige sekerheid van God se ryke genade in Jesus Christus. Erfgename saam met Hom.

Besit jy daardie rykdom?
In die finansiële drukte en groot verliese weens die Covid-19 virus herinner die Here ons dat ons nie beheer oor die toekoms of ons besittings het nie. Skielik het ons soveel sekuriteite verloor. Verlies aan aardse bates binne enkele weke. Hoe arm is ons wanneer dit ons enigste rykdom of besittings sou wees?

Ons hoor die Here se Woord wat waarsku: Moenie as dwaas ontbloot word, omdat jy selfvoldaan agteroor gesit het, met al jou skatte in aardse skure terwyl jou hemelse skure leeg was nie!

Die Spreuke leer ons: Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. SPREUKE 15:16. Rykdom in ons verhouding met God hang nie af van hoeveel ek op aarde bymekaar gemaak het nie. Sy rykdom is ‘n genadegawe, waaraan ons deel kry in Jesus Christus. Wie homself verloën, sy kruis opneem en Jesus in die geloof volg, kan seker wees daarvan. Hy dra ons in tye van groot oeste en vol skure, maar ook in pandemie tye wanneer ons nie weet wanneer dit finansieel beter sal gaan nie. Maar al het ons min, kan ons steeds die Here dien. Gemotiveer deur wie Hy is as God, wat ryk is in genade, en nie deur wat Hy vir ons in aardse skatte kan gee nie!

Dr. Callie Opperman (Emeritus) 
Swakopmund
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: