Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Daar is jou ma - Daar is jou kind - 10 Mei 2020  (Dag 45) 

Lees: Johannes 19: 25-27

Dit is moedersdag. Unieke moedersdag. Die eerste en hopelik laaste moedersdag tydens Covid-19.

Vandag het ons seker meer tyd as ooit van tevore om bietjie in die besonder te dink en te praat oor ons moeders. Ek dink, anders as gewoonlik, is die meeste van ons nie vandag by ons moeders nie.

As ons vandag dink aan ons moeders is baie van ons baie dankbaar vir die moeder wat ek het of die moeder wat ek gehad het. Saam met my pa het hulle oneindig baie vir my gedoen. Baie opofferings. Miskien baie pyn en droefheid om my te bring waar ek vandag is.

In Johannes 29:25-27 lees ons van ‘n moeder met baie pyn en droefheid. Baie min moeders het in die geskiedenis van die wêreld die verskriklike beleef wat sy m.b.t. haar kind ervaar het. Maria aanskou haar kind Jesus se doringkroon, die spykers, die kruis, die bloed, die pyn. Sy hoor hom prewel: ek het dors, sy hoor hom roep: My God, my God, waarom het U my verlaat. Langs haar staan Johannes, die dissipel vir wie Jesus baie lief was. Hy sien die pyn van Jesus maar seker ook die trane en die pyn van Jesus se moeder, Maria.

In die middelpunt van alles: Jesus aan die kruis. Die mens, die kind wat seker die grootste pyn in die geskiedenis van die mensdom verduur het. In sy grootste eensaamheid en pyn vergeet hy nie mense wat vir Hom belangrik is nie. Hy sterf vir alle mense, maar dink op daardie oomblik in die besonder aan sy ma en Johannes. Hy sê vir Johannes daar is jou ma en vir sy ma daar is jou kind. 

Vandag 2020 jaar later glo ons die Here wil veral in hierdie besondere donker tyd vir elke kind sê: Hier is jou ma, hier is jou pa, hier is jou ouers, hier is die mense wat die Here gegee het om jou te versorg, jou te troos, te help, op te voed , na Hom te lei. Hierdie mense offer baie vir jou op…..wees lief vir hulle, gehoorsaam hulle, bid vir hulle, dank die Here vir hulle. As jy alreeds uit die huis is en jou ouers leef nog, gee op ‘n besondere wyse vir hulle om. As hulle lankal dood is, dank die Here vir hulle.

 Ons dink vandag in die besonder aan kinders wat reeds en veral onlangs moes staan voor die geopende graf van ‘n moeder of ‘n vader en nog erger van beide. Insgelyks aan hulle in groot droefheid oor die dood van kinders en kleinkinders.

Ons glo die Here wil ook vandag vir ma, pa, ouer, voog, grootouer, predikant, kerkraad, kategeet sê: Hier is jou kind/kinders. Die Here het hulle vir jou gegee, ‘n onuitspreeklike voorreg wat baie mense nie het nie. Wees lief vir hulle, versorg hulle met verantwoordelikheid en deernis, bid vir hulle, lei hulle na die Here, wees vir hulle ‘n voorbeeld met woord en daad.

Prof Bieks Beukes   
Capitalpark, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: