Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Jy moet glo dat die Here met jou saamloop  - 11 April 2020  (Dag 16) 

Die een oomblik leef ‘n mens rustig en kommervry en skielik verander alles. So het die Koronavirus ons soos ‘n donderslag getref en ons lewens totaal kom verander.  

‘n Situasie van inperking met al die implikasies wat dit meebring, beïnvloed nou ons lewensomstandighede met gepaardgaande frustrasies. Terselfdertyd word ons gekonfronteer met moontlike besmetting en selfs die dood. Skielik voel ons nie meer veilig en geborge nie. ‘n Onsigbare vyand bedreig ons wat angs en spanning veroorsaak, nie net vir onsself nie, maar ook vir ons familie en vriende en uiteindelik vir almal wat met hierdie dodelike virus in aanraking kom.

Ek dink die dissipels moes ook so gevoel het, toe Jesus hulle vertel het dat Hy weggaan en dat daar ‘n moeilike tyd vir Hom en hulle voorlê. Jesus het hulle gemoedstoestand verstaan, omdat hy hulle so goed geken het en daarom die oproep in Joh. 14 v 1: “ Moenie dat julle harte ontsteld wees nie, glo in God, glo ook in My”. Wat sê Jesus eintlik? In die onsekerheid en twyfel, staan die sekerheid van God se teenwoordigheid in hulle krisis. Sy lyding, kruisdood, begrafnis, opstanding en hemelvaart, werk alles mee tot die verheerliking van God sy Vader. Jesus het die heilsplan van God kom voltooi en so Sy liefde vir die wêreld bevestig. As duurgekooptes, kon die dissipels in hulle angs en vertwyfeling aan Jesus vashou.

Die oproep tot geloof nooi ook vir ons as gelowiges om in hierdie tyd van onsekerheid, God die Vader te vertrou met die wete dat Hy ons ken en verstaan. As Sy kinders kan ons weet dat Hy, deur die soenverdienste van Jesus Christus, ons liefhet en Sy hand van bewaring oor ons sal hou. Niks of niemand sal ons van die liefde van Christus kan skei nie.

• Geloof is om te weet dat Jesus met ons is al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Matt 25:20 ). 
• Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie kan sien nie.
• Geloof is om die oë op Jesus, ons Leidsman gerig te hou soos die geloofshelde in die Hebreërbrief.
• Geloof is om Jesus se belofte aan die dissipels dat Hy weer sal kom, te aanvaar en intussen Sy liefde en genade elke dag uit te leef en so getuies te wees van Sy groot en oneindige liefde vir ons almal.
• Geloof roep ons op tot volhardende gebed vir die wêreld.

Hierdie tyd van inperking is ‘n geleentheid tot verootmoediging; om seker te maak dat ons nog in pas is met die Woord van God en wat Sy wil met ons lewens is.

Skep moed: “Jy moet glo dat die Here met jou saamloop; dat sy Gees oral met jou sal gaan”. (Liedboek 518).
“ Wees stil en weet : Ek is die Heer. Bly waak en bid; volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof”. ( Liedboek 519).

Ds Herklaas Viljoen,
Emeritus: Bela-Bela.           
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: