Kyk op met 'n gebed in die hart! - 11 Augustus 2020 (Dag 138)
Goeiedag Vriend, vergun my om met jou ʼn baie besonderse boodskap te deel wat ons uit die lewe van Jeremia put. Jeremia tree in ʼn moeilike tyd van sy volk se geskiedenis op en reeds met sy roeping besef hy dat sy taak alles van hom gaan verg.
In Jer. 1:10 lees ons: “Kyk Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.” As belofte gee die Here vir hom die woorde in verse 17-19:”Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë…Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie, sê die Here, Ek sal jou red.”
En dan pak Jeremia sy lewenstaak aan wat uiteindelik 50 jaar sou duur. In Klaagliedere 3 stort hy sy hart uit en kry ons ʼn kykie in wat dit hom gekos het. Ek sal so bly wees as jy Klaagliedere 3:1-24 self sal lees. Ek haal slegs grepe daaruit aan. Die klaaglied begin só: “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op ʼn pad sonder lig.” So gaan hy voort: “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.”
“Hy het sy boog gespan en my ʼn teiken vir sy pyle gemaak”
“Ek word uitgelag deur my hele volk, hulle sing heeldag spotliedjie oor my. Hy het my bitter dinge laat sluk, die lewe vir my galbitter gemaak.”
“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink draai my gedagte vas.” Ons sien dat alles wat die volk aan hom gedoen het, het hy aan die Here toegeskryf, want hy is tog die geroepene van die Here. Hierdie hartroerende woorde van Jeremia, van sy hoop wat hy verloor het en sy gedagtes wat vasgedraai het, hoor ek al meer van baie kante af. En is daar raad daarvoor?
Luister wat staan in vers 21: “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot.”
Daar word vertel van twee krygsgevangenes wat in haglike omstandighede opgesluit was. Die een was in die dieptes van moedeloosheid, want al wat hy raakgesien het, was die tronkmure en tralies en ellende rondom hom. Die ander een was blymoedig en vol moed, want hy het opgekyk deur die klein venstertjie en die blou lug gesien en gedink aan die vryheid daar buite.
Dit lyk my dit is wat Jeremia ook gedoen het; weg gekyk van sy ervaring en op God gefokus. En nou vir die geweldig ontdekking:” Ek sê vir myself: DIE HERE IS MY LEWE, daarom hoop ek op Hom.”
Is dit nie wat maar met ons gebeur wanneer ons alles verloor het en net Ons Hemelse Vader en Verlosser Jesus oorhou nie. En is dit nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dit is makliker vir ʼn kameel om deur die oog van ʼn naald te gaan as vir ʼn ryk persoon om deur die hemelpoort te gaan nie.
Dit is die eerste waarheid wat ek in Jeremia se lewe ontdek het maar daar is nog.
So liewe Vriend skep moed, ons het ʼn wonderlike boodskap van HOOP. Wanneer ons dink ons het alles verloor, vind ek my God op ʼn baie besonderse vlak.
Kyk op! Met ʼn gebed in die hart
Ds. Pieter Strauss (Emeritus)
Bloemfontein