Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Vervul u roeping - 11 Julie 2020  (Dag 107) 

Openb. 1:6b. “aan Hom (Jesus Christus)wat ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan kom die heerlikheid en die krag toe, vir ewig en ewig”.

Die effek van Jesus Christus se versoenende liefde kom onder andere ook hierin uit dat Hy ons weer konings en priesters vir Sy God en Vader gemaak het. Ons is in ons oorspronklike heerlikheid herstel. Ons is weer Konings ! Opnuut mag ons, die nuwe mens, weer met God in God se troon sit.

As die vraag gevra word: Wie regeer die wêreld, dan word gewoonlik ge-antwoord: “die Keiser en sy ryksgenote”. Maar dis nie waar nie. Johannes sê, dis ons wat regeer!

Mede deur ons gebede is dit ons wat die geskiedenis bepaal en rigting daaraan gee. 
Dink net hoe Johannes daaraan rigting gegee het, alleen maar deur hierdie openbaring i.v.m. die laaste dae op te teken. Ons koningskap, so verneem ons hier, is verbonde met die priesterlike wyding van die lewe. Ons is konings en priester tegelyk. Ons regering is geen beoefening van brute geweld nie. Dit bring geen dood en verwoesting mee nie. Nee...ons bring onsself en die wêreld op die altaar van God.
Ons regeer deur te dien.

In die tyd waarin ons leef, moet ons opnuut bewus wees van wat en wie ons deur die verlossingswerk van Jesus Christus is. Ons moet bewus wees van die geweldige rol wat ons in hierdie stormagtige tye te speel het. Met priesterlike bewoeënheid moet ons diensbaar wees.

Deur op ons knieë te bly...bring ons “‘n stil en rustige lewe” te weeg. Deur as voetwassers diensbaar te wees...werp ons vurige kole op “ ’n uit die hel gestookte wêreld”...en skep ons vrede. Plaas u voet op die omstandighede van die tyd en heers koninklik daaroor.

Vervul u roeping as Konings en priesters van die allerhoogste God met ‘n oorwinning stemming. Kyk na ons Here en Meester, Jesus Christus. Hy het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat.

Dr Frans de Bruyn 
Bloemfontein
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: