1 Johannes 1:3: Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus.
In hierdie tyd van inperking probeer ons mekaar as gelowiges op verskeie maniere ondersteun. Ons stuur vir mekaar video’s met ‘n geestelike strekking of kyk na preke op Youtube. Ons vorm dalk gebedsgroepies wat ooreenkom om op ‘n sekere tyd saam te bid of bel mekaar om mekaar te bemoedig.
Iets wat baie gelowiges egter mis in hierdie tyd, is die gemeenskap van gelowiges – daar waar gelowiges saamkom om die Here se Woord in ‘n erediens of ‘n Bybelstudie of in ‘n selgemeente. In Hebreërs 10:25 word ons ook vermaan: “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan …”.
Johannes praat in ons teks eintlik van drie vorms van gemeenskap wat almal met mekaar verband hou. Hy praat eerstens van die gemeenskap wat gelowiges onderling met mekaar ervaar. Hy sê tweedens dat hierdie gemeenskap wat hulle onderling het, gegrond is op die gemeenskap wat hulle met God het. Wat egter derdens baie belangrik is om te weet, is dat die gemeenskap wat gelowiges het, geskoei is op die gemeenskap wat die Persone van die Drie-Enige God onderling met mekaar het.
God is drie Persone (Vader, Seun en Heilige Gees) in een Wese. Drie Persone, maar één God. Van die onderlinge gemeenskap tussen hierdie drie Persone, lees ons al in Genesis 1.
Ons kan te maklik sê dat wanneer daar gelowiges bymekaar is, argumentshalwe rondom ‘n braaivleisvuur, dan is daar gemeenskap van gelowiges. Dit is nie noodwendig waar nie. Die vraag is of daardie saamwees van gelowiges iets weerspieël van die gemeenskap wat hulle met God het – meer nog of hulle saamwees iets weerspieël van die onderlinge verhouding tussen die Persone van die Goddelike Drie-Eenheid.
Dit is ook waar van ons eredienste. Ons kan dit net die gemeenskap van die gelowiges noem as dit ons herinner aan die onderlinge gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees.
Gebed: Here, ek mis dit so om in ‘n erediens saam met medegelowiges te wees. Help my om dit werklik te waardeer wanneer ek weer die geleentheid kry. Gee dat ons eredienste altyd sal herinner aan die onderlinge gemeenskap van U, Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.
Dr. Enrico Casaleggio
Bloemfontein