Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die Here is daar - 11 Mei 2020  (Dag 46) 

• “Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie… U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe… U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie” (Ps.139:1-6. Die Boodskap).
• “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” (:5)

Psalm 139 vertel ons iets van God se alles-insluitende en -omsluitende liefde. Hy is altyd daar, in elke nood, siekte, bekommernis, vrees of eensaamheid. Die hele Psalm is deurdrenk met sy versekering: Hy sien my, Hy ken my, Hy weet van my, Hy omsluit my, Hy neem my in besit, Hy bring lig vir my, Hy vorm my, Hy tel my lewensdae, Hy deurgrond en ondersoek my.

Dawid noem hier ’n paar praktiese voorbeelde van lewensituasies waarin jy kan verkeer, en dan sê hy: “As ek doodgaan, is U by my. Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na My toe te kom nie. Oral hou U my vas En U lei my op u pad. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my. Lig en donkerte is vir U dieselfde” (:8-12. Die Boodskap). Daar lei u hand my en hou u regterhand my vas (:9,10).

Hy vertel selfs hoe die HERE hom nog voor sy geboorte al gevorm en aanmekaargeweef het. God was dus daar. Hy het hom gesien toe hy nog ongebore was. Al sy lewensdae het Hy in ’n boek opgeskryf nog voordat Hy gebore is (:13-16). 

Psalm 46 sluit aangrypend hierby aan: “Al sou die aarde bewe en dit lyk of die berge in die see wil wegsak, ons is nie bang nie. Al druis en skuim die see, en al skud dit die berge heen en weer…. Die HERE, vir wie niks onmoontlik is nie, is by ons… Hy sal ons beskerm” (:3,4,8 DB). “God is daar!” (:6).

As ek hierdie woorde lees dan gryp dit my eie hart aan. Ek en jy kan weet dat die HERE ons toevou in sy arms. Want, in die woorde van die Heidelbergse Kategisme: My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort. 

As jy dus self alleen is, met bekommernis in jou hart, met vrees en onsekerheid, selfs met onrus, pyn en smart, dan het jy hierdie absolute wete en oortuiging: Die HERE is dáár, nou en hier, by jou, vir vandag en môre en elke dag. Dit gee vir jou HOOP en troos en dit bring vrede in jou hart.

Laat hierdie sekerheid jou vashou: Die HERE is NOU hier by my!

Ds. Attie Beetge
Stellenbosch
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: