Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die laaste week  - 12 April 2020  (Dag 17) 

Die Evangelies beskryf Jesus se optrede as ’n seun toe hy die Skrifgeleerdes op 12-jarige ouderdom geleer het. Daarna hoor ons eers weer van Hom toe Hy waarskynlik 30 jaar oud was. Sy optredes oor die volgende drie jaar rondom die see van Galilea word beskryf. Hy leer mense met wonders en tekens; met gelykenisse en met sy rede op die berg en moontlik weer aan die voet van die berg op die vlakte. Wanneer Hy op ’n donkie Jerusalem uit die koers van die Olyfberg binnery, begin die laaste week van sy menslike optredes. Die Lydenstyd het aangebreek.

Elke dag van hierdie week se gebeure word beskryf en soos die week vorder word dit byna uurliks beskryf. Jesus reinig die tempel; redeneer weer met die Skrifgeleerdes; vertel weer aan die mense ’n gelykenis oor sy komende lyde; verduidelik die opstanding en lewer dan sy profetiese rede oor die oorwinning van die koninkryk van God en wat dit vir almal beteken. Hy stel die Nagmaal in by die Paasete. En dan loop dit uit op die laaste gebeure – die eensaamheid in die tuin van Getsemane; die verraad en verloëning deur sy eie volgelinge; ses verhore; bespotting en dan die Vrydag ...

Hierdie gebeure is aangrypend en elkeen het diep betekenis. Ons wys maar net op een: In die tuin van Getsemane gaan Hy ’n klipgooi van sy dissipels en bid ’n kort gebed. Sou ons dit vandag ’n skietgebed kon noem?

“Vader as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg…” Bo-menslike lyde wag want die oordeel van God oor die kwaad moet deur die lyde van ’n mens weggeneem word. Dit is die eis van God se geregtigheid. Die kwaad moet vergeld word—die kwaad wat soveel oorloë, haat, nyd, goddeloosheid, selfsug en verwoesting gebring het en steeds bring.

Die kwaad in my lewe...
En u lewe…
Die mens wat vir die kwaad gekies het, moet daarvoor betaal. Maar hoe kan ons? 
Ek kan nie! 
U kan nie! 
Die grootste denkers, wetenskaplikes, keisers, konings, presidente kan ook nie!
Net die mens Jesus kan!
En nou vra Hy om daarvan vrygestel te word?

Sê nou God het hierdie skietgebed verhoor. Hy laat Jesus vry en Hy oordeel ons, die kwaaddoeners. Hy ontbind sy Koninkryk en Hy sluit die kerk en Hy draai Sy rug op ons. Hy los ons alleen in ons daaglike lewe soos wanneer ons siek is of sterwend. Hy verskroei al die mooi dinge om ons. Hy laat mense oor aan hulleself om te lewe sonder liefde en ordentlikheid. Dan het ons die Lydensbeker gedrink! U en ek.

Dan bid Jesus verder: “Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied”
God wil ons nie veroordeel nie. Want God is liefde. Hy is grensloos lief vir sy mense. Hy is besorg oor sy skepping – oor al die mooi dinge en Hy wil sy Koninkryk weer volkome herstel.
Daarom neem Hy nie die lydensbeker van Jesus weg nie. Jesus gaan die lydenspad stap.

Ons drink nie die lydensbeker nie. Ons geniet die vrug van Jesus se lyde. Ons kan ook ’n skietgebed doen: “Dankie Vader dat U wil geskied het, sodat ons in U Koninkryk kan kom”.

Daar is altyd hoop.

Prof. Koos Vorster 
Potchefstroom
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: