Geloofsonderskeiding bring hoop en 'n nuwe taal - 12 Augustus 2020 (Dag 139)
Jesus vertel talle stories gedurende sy aardse bediening! In die Johannes evangelie kom die naam “Vader” 120 keer voor. Jesus leef vir sy Vader en Johannes beklemtoon die verhouding tussen hulle met talle voorbeelde en stories in sy evangelie.
Geloofsonderskeiding bring hoop en ‘n nuwe taal ... Johannes vertel dit as volg in Johannes 14:6 en 17:3 as hy sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe... niemand kom na die Vader behalwe deur my nie...”. Dié metafoor van die weg of pad is “nuwe taal” wat juis hoop bring vir sy volgelinge wat deur sy Gees geleer het om daagliks geloofsondeskeidend op te tree.
Mense gee betekenis aan hulle lewens deur die stories wat hulle oor hul lewens konstrueer en vertel. Hierdie lewens is veel ryker as die stories wat hulle daaroor konstrueer. Enersyds konstrueer mense lewensstories gebaseer op hulle ervaring van die lewe terwyl hierdie stories andersyds weer die lewe van mense vorm. Lewe en stories staan dus in verhouding tot mekaar. Die storie van mense oor hulle lewens word deur ‘n verskeidenheid diskoerse beïnvloed in die korona-tyd! Deur elkeen se unieke storie wat vertel word, word hoop geskep.
Ons word deur die Heilige Gees bewus van God se storie met die ganse skepping, sy wêreld en met my. God werk nog steeds en alreeds in die wêreld. Hy is aktief besig met sy missie om sy koninkryk te laat kom. Die skeppingswerk laat hy voortgaan in die herskepping van die wêreld ook tydens die pandemie. ‘n Nuwe normaal is besig om deel van elkeen van ons se stories te word. Nuwe taal word ook in die pandemie se hoogtepunt geskep. In plaas van wanhoop, vrees en angs kom ons Vader en bevestig sy hoop aan ons deur sy beloftes. As sy volgelinge word ons almal ook uitgedaag om onsself te verwoord deur ons en ander se stories in ‘n nuwe en hoopvolle taal!
‘n Verandering en aanleer van ‘n “nuwe taal” is uiters noodsaaklik. Indien die transformasie diepliggend en permanent moet wees, sal daar ‘n ander taal net nuwe inhoud moet ontstaan. Die taal word meesal deur stories gekonstrueer. Die stories gee dan sin en betekenis aan die taal wat gekommunikeer word asook hoe dit verstaan en geïnterpreteer moet word. Sewe moontlike voorbeelde van die “nuwe taal” in die tyd van ons “nuwe normaal” is:
- Gods/koninkrykstaal. Om salig te wees of soos die Boodskap se vertaling van Matt. 5:5 sê: “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie”. Dit gaan alles oor die Drie-enige en Sturende God asook oor sy koninkryk.
- Verhoudingstaal. Alles gaan oor verhoudings, met die Drie-enige God, ander wat my pad kruis asook ekself en die skep van veilige ruimtes waar almal tuis en geborge is in die vreemde tyd. Deernis en omgee is die gesindheid waarmee die “ander” omvou behoort te word.
- Naby-taal. Om nabyheid en intimiteit te verleen, ten spyte van ons maskers wat gedra moet word. Dit is ‘n integrale deel van ons passie en daar wees. Om in iemand anders se skoene te gaan staan en hoop te leef!
- Buitentoe-taal. Om doelbewus grense oor te steek en ook risiko’s te neem om binne die unieke leefwêreld van die “ander” te kom. Om wyd en ver te kyk met sagte oë. Jesus se storie van die barmhartige samaritaan is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. In die korona tyd smag soveel brose en kwesbare mense daarna
- Lof en leef-taal. Om as ontledigde mense, leeg van onsself en vol van die Gees in onvoorwaardelike liefde te leef as mense “who claim nothing”. Om uit diepe dankbaarheid leef ons daagliks in die onseker tye juis in afhanklikheid van ons Vader en op Jesus se weg, pad.
- Familie-taal/familia Dei. Om binne ons nuwe familie as susters en broers in Christus vry, in vrede, met vreugde, blydskap hoopvol te lewe. Ons eendersheid en eenheid word dan juis deur ons onderlinge andersheid gekomplimenteer en gerespekteer in sulke uitdagende tye
- Mede skepper aan geloofwaardige wêreld-taal. Om as mense wat ontledig is, juis aktief deel te neem aan die heling en vernuwing om die koninkryk van God op aarde net soos dit in die hemel te laat kom. Dit vereis dat ons elkeen al meer moet optree as medeskeppers van ‘n meer geloofwaardige en heler wêreld.
Geloofsonderskeiding bring hoop en ‘n nuwe taal ..., dus moet elkeen van ons getrou wandel op die “weg” wat die Seun aandui na ons Vader!
Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria