Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Ons is aangeraak - 12 Julie 2020  (Dag 108) 

Lees: Johannes 20:26-31

Skrifoordenking: In hierdie tyd waarin ons nou leef moet almal versigtig wees waaraan hulle raak. Die verspreiding van die Covid-19 virus word oorgedra deur fisies aan iets te raak en dan weer aan jou mond, neus en oë te vat. Onwillekeurig begin ek dink aan ʼn mens se natuurlike behoefte om aan iets met jou vingers te wil raak en te vat. 

Die voorbeeld wat vir my die duidelikste uitstaan, is die vrou wat vir jare lank met bloedvloeiing geteister was. Sy het ʼn intense behoefte gehad om aan Jesus te raak (Mar.5:27,28). Toe sy aan Hom raak met die geloof dat dit haar siektetoestand sou aanspreek, het Jesus gevoel dat daar krag uit Hom uitgaan en sy is genees. Ek dink ook aan die mense wat kindertjies na Jesus toe gebring het dat Hy hulle die hande moet oplê, maar sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Jesus sê dan die bekende woord: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle” (Matt.19:14).  

En die ongelowige Thomas wat na Jesus Christus se opstanding nie wou glo nie, totdat Jesus vir hom beveel om sy vinger te bring en te kyk na sy hande, en sy hand te vat en in sy sy te steek, en om nie meer ongelowig te wees nie maar gelowig (Joh.20:27). As ons die dag aanpak kan ons dit met moed en geloof doen, want ook ons is aangeraak deur die Heilige Gees wat ons ongelowige harte verander het in gelowige harte. Dit is asof die Here ook vir ons wil sê om nie langer ongelowig te wees nie, maar gelowiges. Daarvoor het Jesus Christus gesterf en het Hy opgestaan uit die graf uit.     

Gebed: Ons Vader in die hemel, raak U ons harte weer vandag aan sodat ons kan glo en u krag in ons liggame voel vloei. Deur u groot liefde en genade is ons in staat om vandag te lewe, en aan U die dank, eer en lof te bring. Beskerm en bewaar ons vandag, Here, en mag ons bewus wees van U teenwoordigheid in alles wat ons vandag aan raak. Om Jesus Christus ontwil. Amen.

Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: