Die liefde!!
Die sagte, teer en omvouende aanraking van ons Vader se onvoorwaardelike liefde. Juis in die daaglikse gebrokenheid en verskille word ek, ons saamgebind deur die volmaakte liefde van 1 Korintiërs 13.
Paulus sluit die kragtige 1 Korintiërs 12 oor die gawes van profeteer, gesondmaking, wonders te doen, tussen geeste te onderskei, tale te praat af in vers 31 en sê: “Lê julle toe op die beste genadegawes” en begin 1 Korintiërs 13 met “Nou wys ek julle wat nog die allerbeste (gawe) is: Die liefde
As dit gaan oor verskille, hardkoppigheid en selfs my ekkigheid bid ek vanoggend vir ‘n oop en leerbare gees wat God die Gees alleen kan waarborg vanoggend met die aanhoor van die Boodskap.
(Onderstaande is geskryf deur Prof Ferdinand Deist in 1989 en so hier en daar deur my aangepas).
"Die liefde is geduldig - dit kan verskil van mening verdra;
die liefde is vriendelik - selfs wanneer menings radikaal verskil;
die liefde is nie afgunstig nie - ook nie as iemand anders se mening meer aanhang het as myne nie;
die liefde is nie grootpraterig nie, ook nie wanneer my mening "gewen" het nie;
die liefde is nie verwaand nie, ook nie verwaand om my te laat dink dat ek alleen die waarheid in pag het nie;
die liefde handel ook nie onwelvoeglik nie - dit laat my nie toe om 'n ander te verdink of te beledig of af te skryf nie of selfs neer te kyk nie;
die liefde soek nie sy eie belang nie - daarom hoef ek nie altyd 'n argument te wen ter wille van my eie aansien nie.
die liefde is nie liggeraak nie - daarom sal ek my nie hoef te vererg as iemand anders as ek dink nie;
en die liefde hou nie boek van die kwaad nie - daarom sal ek 'n verskil van mening sommer gou vergeet al het my siening verloor;
die liefde is bly saam met die waarheid - en die waarheid van die liefde is van huis uit paradoksaal; want die waarheid is dat God sondaars, soos ek, liefhet;
die liefde bedek alles - ook die verskille, seer en verwondheid;
die liefde glo alles - ook dat die ander mens dit eerlik bedoel as hy, sy haar mening gee;
die liefde hoop alles - ook dat ons, ten spyte van ons verskille, één sal bly;
en dit verdra alles - insluitend ons klein menslike verskille van mening.
1 Korintiërs 13: 13 vat alles so mooi saam en sê: “ En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
Die liefde bestaan vir ewig; want geloof en hoop het waar geword!
Wat het ek, jy ons, almal en ons land vanoggend nodig?
ie liefde!!
Kom ek, ons leef dit vandag!
Dr. Jan Botha
Mootvallei, Pretoria