"Lockdown" met God - 13 April 2020 (Dag 18)
Die opskrif van ons oordenking vandag is: “LOCKDOWN MET GOD.”Ek het nie die opskrif uitgedink nie. In Matt 6:6 sê ons Here Jesus Christus aan Sy dissipels en aan ons: “wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur...” Hiermee saam verseker Hy hulle: Jou hemelse Vader sien jou waar jy in afsondering is.
“Gaan in jou binnekamer” Die binnekamer was ‘n klein kamertjie in die Oosterse huis wat van binne gesluit kon word. Daar was jy alleen. Alleen met jouself....alleen met God.
Jesus was bewus
• dat die mens sedert die sondeval voortdurend op vlug is.
• dat hy God ontvlug om in die geharwar van die lewe weg te kruip.
Die uitkoms hiervan is, dat hy op die lange duur deur die lewe verslind word.
Daarom wek Jesus Sy volgelinge op om die alleen-wees-met-jouself en die alleen-wees-met-God doelbewus op te soek.
In die “Lockdown “ met God kom dit weer tot daardie persoonlike verkeer van jou met Hom, die Bron van alle lewe. In die binnekamer kan jy nie ontvlug nie.---nie van jouself nie...en ook nie van God nie.
Wie nou eenmaal die selfoorwinning behaal en die rus en stilte van die binnekamer ontdek, verruil dit nooit weer vir watter skatte die wêreld ook al bied nie.
In die binnekamer beleef jy wel benoude oomblikke, want die binnekamer het nie ‘n agterdeur nie.
Jy kan nie daar wegkruip nie.
Jy is “ge-lockdown”---alleen met jouself---alleen met God.
Maar daar keer wat vergete was, weer terug. Daar kom wat onderdruk was, weer uit !
Gelukkig is jy hier vry van mense oë en jou gebed kan dan eerlik en in selfoorgawe geskied....sonder om jou mooi voor te doen.
Hier leer jy jou waarlik ken deur die werking van die Heilige Gees in die spieël van Jesus se volmaaktheid.
Nou kan dit nie anders nie... jy word tot oorgawe beweeg. Maar dis ook hier waar Hy jou van skuldvergiffenis verseker.
En...jou gebed word ‘n loflied op God se genade.
Jy gaan as ‘n bevryde mens daaruit !
Geen ware godsdiens is moontlik sonder stilte nie. Daardie intiem persoonlike verkeer met God, kan alleen gesmaak word in die stilte van die binnekamer.
Terug na die binnekamer...sluit die deur.
Dit is ‘n oase in die woestyn.
Wat ‘n seën om met God “gelockdown” te wees.
Dr Frans de Bruyn
Bloemfontein