Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die nalatenskap van hoop is hoop - 13 Augustus 2020 (Dag 140) 

Dit is aan te beveel dat u vooraf 2 Sam. 17: 24-29; 19: 31-40 en 1 Kon.2:7 lees om op hoogte van sake te kom van ’n Bybelse gesigspunt op hoop. –Daarvan word ’n eerste keer, in Eksodus 3 vers 8 melding gemaak – ’n land wat ‘oorloop van melk en heuning.’ Moses, die optekenaar van die verbondsbeloftes, soos in hierdie verse beskryf, sou seker nie oningelig wees nie. Die gebied Gilead, oos van die Jordaanrivier. ’n Hooglandplato van steiltes en ravyne was meermale, ’n toevlugsoord vir vlugtelinge wat in onguns geraak het.     

Daarheen vlug ook koning Dawid met sy lojale aanhang, ten einde aan die opstand van sy verwende seun, Absalom, te ontkom. Die skrywer van Samuel vind hierin die geleentheid om die ontvangs van Dawid in Gilead as ’n universele beginsel (Abraham- ’n seën vir al die nasies, Gen.12:2-3) by sy lesers tuis te bring. ’n Gileadiet, die sogenaamde ‘man van yster,’ (Barsillai, BDB leksikon, bl.137) en vriende versorg die onttroonde koning en sy afhanklikes mildelik uit die oorvloed van die landskap Gilead (2 Sam.17:29).

Na die afrekening met Absalom en sy magte keer Dawid in herstelde koninklike waardigheid terug. Barsillai vergesel die koning as gebaar van afskeid en word saam met hom oor die Jordaanrivier gevlot, waar Dawid ’n uitnodiging tot hom rig om sy ouderdom onder koninklike versorging van Israel se eerste ‘Goue Era’ te kom deurbring. In hedendaagse terme – ‘one good turn deserves another’ – Wat Barsillai hoflik van die hand gewys het, deur toe wel sy nageslag, die Kimhamfamilie, te benoem vir enige dankbetuiginge, wat die koning in gedagte mag hê. Volgens 1 Kon. 2:7, het Dawid sy opvolger, Salomo, dit op die hart gedruk om die Kimhamfamilie se weldaad in ag te neem. Die hoop van Israel word van geslag tot geslag die toekoms ingedra. 

So haal Barsillai en sy nageslag die anaal van koninklikes. Dit is altyd goeie raad om vir wat goed is in die nuus te wees, maar daarteenoor moet gewaak word om nie vir die verkeerde redes die koerant te haal nie. Die Gileadiete wat deur God se genade vir hulle oorvloed beskore was, het die skrywer van Samuel genoop om in sy tweede boekdeel (hoofs.17:27-29) te erken dat mense van Gilead en meer, op ’n merkwaardige wyse tot die stryd en voortbestaan van die Aartsvaderlike verbonde toegetree het. Dit, hoewel die verskillende stadstaatjies, op daardie stadium sekerlik nie heeltemal, of glad nie, die Jahwe-verbondsgeloof toegedaan was nie. (Albright, From the Stone Age to Christianity, bll. 270-71) Nogtans het hulle as medewerkers betrokke geraak in die saak, waarvoor Dawid se troon bekendgestaan het. – Ammoniete en Arameërs (Barsillai = Aramees) was nie altyd vir Israel welwillende bure nie, (2 Sam.10), nietemin is die onbekende profeet duidelik van mening dat Barsillai en Ammonitiese vriende deur Godsbeskikking wel ‘goeie nuus’ geag moet word – soos bewoord in die bergrede van die Groot Koning uit die Huis van Dawid” ‘’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie’ – vat die mense saam op die regte pad (Matt.5:14).       
 
Dr Dunes van der Merwe 
Somerset-Wes 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: