Jy is nooit alleen nie - 13 Julie 2020 (Dag 109)
“Daardie nag het die HERE by Paulus gestaan en vir hom gesê: ‘Hou moed!’” (Hand.23:11).
Ons leer vir Paulus ken as ’n “aktivis” wat opgegroei het in die tyd van die hewigste christenvervolginge. Die eerste keer waar ons hom as ’n jong man ontmoet was tydens die steniging van Stephanus (Hand.7:58; 22:20). Toe die vervolging van Christene losbars, toe was Paulus aan die voorpunt daarvan. Hy wou die kerk van Christus uitroei, en soos ’n besetene van huis tot huis gegaan en mans en vrouens uitgesleep en hulle in die tronk laat sit (Hand.8:3; 9:1).
Maar op pad na Damaskus keer die HERE hom voor en draai sy hele lewe om. Toe word hy ’n yweraar vir Christus wat van land tot land gaan om die evangelie van verlossing aan alle mense te bring. Waar die Jode en die Joodse raad eers vir hom hande geklap het, word die vuiste teen hom gebal. Hy word nou die prooi van die vervolginge wat hy goedgekeur en bevorder het.
In elke stad of dorp of plek waar hy die evangelie van Christus bring, kry hy teenkanting. Hy wat die “golden boy” van die Joodse godsdienstige gebruike en leerstellings was, word nou self gehaat en vervolg, geboei en gestenig, gegésel en in die tronk gegooi. Die mense wou hom doodmaak (Hand.21:31,36) en almal het geskreeu: “Paul-must-fall” (Lees 2 Kor.11:24-29).
Maar in Hand.23:11 lees ons: “Daardie nag het die HERE by Paulus gestaan en vir hom gesê: Hou moed!”
Toe alles vir hom donker was, toe die teenkanting teen hom al feller en feller word, toe die vrae in sy hart nie altyd ’n antwoord kon kry nie, toe staan die HERE by hom, met die bemoedigende versekering: “Hou moed!”.
Word dit vir jou ook soms so donker dat jy moet vra: “HERE, waar is U?” Niemand van ons het voorsien dat die jaar 2020 ’n krisisjaar sou word nie. Ons het almal gedink dit gaan ’n jaar van dubbele seën wees, toe word dit ’n jaar van kommer en vrees, waar die dood soos ’n swart skaduwee oor die hele wêreld trek. Niemand is gevrywaar teen hierdie virus nie. Ons voel broos, uitgelewer, afhanklik. Daarom hou ons almal in ons weerloosheid vas aan elke belofte wat die HERE vir ons gee.
Hierdie was nie die enigste keer wat die HERE aan Paulus verskyn het om Hom te bemoedig nie. By meer as een krisis in sy lewe het die HERE by Paulus gestaan en gesê: “Moenie bang wees nie, hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou” (Hand.18:9,10).Toe hy in die stormsee was op pad na Rome en die skip wou vergaan, toe verklaar hy teenoor almal: “Selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Verlede nag het daar ’n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort, en hy het vir my gesê: Moenie bang wees nie, Paulus… Daarom hou ek moed en vertrou ek op God” (Hand.27:22-25).
As jy alleen is of as die lewensstorms woedend om jou slaan, kan jy seker wees dat die HERE ook by jou staan en dat Hy vir jou sê: “Hou moed! Jy is nie alleen nie”. Dís die anker waaraan jy vandag kan vashou.
Ds. Attie Beetge
Stellenbosch