Lees: Matteus 11:25-30
Een van die mees algemene kritiek wat baie keer teenoor die Christelike godsdiens geopper word, is dat die Bybel mense se vrye wil onderdruk en dat Christene altyd hulle geloof op ander wil afdwing. Christene word baie keer in die media voorgestel as opdringerige, ontevrede en beswaarde mense wat hulle waardes op ander mense se kele afdruk.
Wat is ons antwoord hierop? Van die begin van die ontstaan van die Christelike kerk het hulle nog altyd gepleit vir ʼn geleentheid om gehoor te word, vry van regerings-, godsdienstige- en sosiale druk. Ons wil die geleentheid hê om die waarheid te verkondig wat in die Bybel staan, en die wat hoor, is vry om dit te aanvaar of nie.
Dietrich Bonhoeffer, ʼn Duitse teoloog wat deur die Nazis ter dood veroordeel is vir sy deel aan ʼn poging om Adolf Hitler te ontsetel, het oor dié vryheid geskrywe: “Die basiese vryheid van die kerk is nie ʼn gawe van die wêreld aan die kerk nie, maar die vryheid van die Woord van God om homself hoorbaar te maak.” Wat hy daarmee bedoel is dat die Bybel sy eie gesag en vryheid het. Die waarheid wat in die Bybel staan moet net deur ons vertel word.
In die tyd van Jesus Christus op die aarde het Hy nie van dorp tot dorp gereis en mense gedwing om in Hom te glo nie. Eerder, wéér en wéér, hoor ons dat Hy by ʼn plek gekom het, sy boodskap gebring het, siekes gesond gemaak het, en mense uitgenooi om Hom te volg.
Jesus sê in die Bybel, en daarom ook aan my en jou: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt.11:28). Of jy kies om die Bybel te glo of nie, of jy kies om dit te lees of nie, daar bestaan min twyfel dat die Bybel aanhou om ʼn groot impak op ons kultuur te hê. En as jy dit hoor en glo, beteken dit ongelooflik baie vir jou.
Gebed:
Vader, Seun en Heilige Gees, praat U met ons deur u Woord, en ons sal dit hoor en glo! Help ons om getrou te bly aan u Woord en in u groot liefde mekaar lief te hê. Ons is uitgeput en oorlaai, maar in U vind ons rus en vrede. Ons dank U daarvoor. Amen.
Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp