Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Bly by ons - 13 Mei 2020  (Dag 48) 

Oordenking Lukas 24: 32

Jesus se verskyning aan Klopas en sy vriend daardie middag van die opstandingsdag gee vir ‘n mens altyd hoop omdat ons daarin lees hoe God bereid was om met eenvoudige mense ‘n pad te loop totdat die lig ook vir hulle opgaan.

Letterkundig is dit ‘n skitterend geskryfde berig. Daar is ‘n opklaring van ‘n brandende vraag in hulle gemoedere. Daar is ‘n spanningslyn dwarsdeur die vertelling tot by die ontknoping en die vreugde van die twee manne wat hulle terugdwing na die dissipelgroep om te gaan vertel van hulle ontmoeting met Jesus.

Die Emmausgangers was deel van ‘n groep Jesus volgelinge wat nog besig was dit te verwerk dat soveel hoop daarmee heen was… Jesus was so ‘n besondere mens- magtig in woord en daad Hulle het gehoop dat Jesus sy volk sou verlos van die Romeinse onderdrukking. Toe gaan die Joodse leiers self en lewer Jesus oor om gekruisig te word.

Daardie oggend kom die nuus dat die graf leeg was en vroue wat berig dat ‘n engel kom sê het dat Jesus opgestaan het. Hierdie twee manne was verward oor wat om te glo. Dan begin Jesus met hulle saamloop en met hulle praat, Die geduld waarmee Jesus met hierdie manne gewerk het, val mens op.

Jesus het verstaan dat hierdie manne groot verwagting van hom gehad het en gehoop hy sou die politieke Messias vir sy volk word. Jesus het daardie middag spandeer om hulle te help om sy Messiasskap reg te verstaan.

Die grootste deel van hulle gesprek die middag het gehandel oor die Messias verkondiging in die Ou Testament. Jesus het die Skrifte wat op Hom betrekking het vir hulle uitgelê. Hy het hulle leer verstaan wat om van die Messias te verwag: Ja, Hy kom uit die geslag van Koning Dawid, maar hy het nie gekom om die oorlogsheld tradisie te laat herleef en Israel van die Romeine te bevry nie.

Hy was die lydende kneg van die Here van wie Jesaja 53 geskryf het: Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sonde is Hy verbrysel… Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom…. Hy kom oorwin, maar hy kom die Satan en dood oorwin.

Dit is die boodskap waarmee die manne moes teruggaan na die dissipel gemeente. Jesus leef. Nie mense of die dood kon hom vernietig nie.

Daarvoor het Jesus na die aarde gekom: Om sy volk van hulle sonde te verlos
Dit is die boodskap wat die Kerk kon bely en moes verkondig. 

So word hierdie onbekende twee mans van die eerste getuies dat Jesus leef!
Wat kan ons saamneem uit hierdie 2 mans se reaksie op die Jesus verskyning aan hulle?
- Hulle sê vir mekaar na die gebeure: Het ons harte nie warm geword in ons toe Hy op die pad met ons gepraat het nie?

Dit sê iets van opgewondenheid, van lig wat opgegaan het, van hoop wat herbore word.
Dit bring lewe in hulle lewe.

‘n Tweede sinsnede het bly vassteek in mense se onthou van daardie gebeure:
Hulle nooi Jesus uit: Bly by ons. Dit is amper aand en die dag is al verby Hierdie uitnodiging lei tot die betekenisvolste oomblikke in hulle hele lewe: Hulle kon maaltyd hou met die Seun van God.

Hierdie verhaal het aanleiding gegee tot die bekende lied: Bly by my Heer terwyl die skemer daal …. Die Kerk het van die uitnodiging ‘n gebed gemaak:

Wees deur U Gees altyd en oral by ons en seën ons met U weldade.

Ds. Wim Slabbert
Faerie Glen, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: