Wat verwag die Here van my? - 14 April 2020 (Dag 19)
Lees: Openbaring 3:7-13
As ons al die omstandighede waarin ons verkeer in oënskou neem, kom die onwillekeurige vraag: Wat verwag die Here van my as Sy kind onder hierdie omstandighede?
In die brief aan Filadelfia kry ons lig en ook ‘n opdrag vir ons as kinders van die Here. Filadelfia was op ‘n strategiese plek geleë op die hoofweg tussen Rome en die Ooste. Daar was ook baie tempels gewy aan die verskillende gode. Ongelukkig was Filadelfia ook onderhewig aan aardbewings en in 17vC is dit verwoes deur ‘n vreeslike aardbewing. Dit was so erg dat baie inwoners geweier het om daarheen terug te trek uit vrees vir wat hulle “die verbrande land” genoem het.
As die Here met Sy kinders in Filadelfia praat, noem Hy Homself die “Heilige, die ware God”. Onder moeilike en bang omstandighede moes hulle opnuut weet dat Hy waarlik God is en daarom in beheer en dat Hy heilig is as die Enigste wat onder alle omstandighede gedien moet word. Kon hulle? Hulle was dan ver in die minderheid en kon nie sien hoe hulle ‘n verskil kon maak in hierdie groot stad nie. Tereg sê die Here vir hulle “Ek weet dat julle min krag het” maar hulle word nie daarom verskoon om maar onaktief te wees of om maar saam met die stroom van klaers en negatiewe mense te gaan nie. Inteendeel, hierdie mooi getuigskrif word vir hulle gegee: “Tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie”. Is dit nie juis ook ons opdrag in hierdie tye nie?
Ten spyte van al die negatiewe, soos die aanvalle wat onbeskaamd toeneem op God en sy kerk; die grootskaalse misdaad en korrupsie in ons land en nou ook hierdie pandemie wat die wêreld en ons getref het met alles wat dit inhou. Ons kan dit nie wegwens of, met respek gesê wegbid nie maar moet dit sien as iets wat nog steeds onder die toelatende wil van God plaasvind. Hoe lank nog? Dit weet ons nie, maar die belangrike is juis om die verleentheid as geleentheid te gebruik om aan ons landgenote die voorbeeld te stel van vashou aan die almagtige God van die evangelie. Ons is geroep om deur ons gehoorsaamheid aan die owerheid (in soverre dit nie in stryd met die Bybel is nie) en deur ons positiewe ingesteldheid te wys dat gelowiges in die vrede en liefde van ons Here lewe en daarom nie bang is vir wat ook mag plaasvind of mag kom nie.
Watter waarborg het ons dat dit sal werk as ons so as gelowiges lewe? Niks minder as die waarborg van die Almagtige God self wat ons verseker “Ek (sal) julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (vs 10)
Kom ons sien dan juis onder al hierdie omstandighede die waarheid van die Here se opdrag: “Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie” Ons word nie gevrywaar van alles wat gebeur nie, maar ons word ‘n geleentheid gegee om tot eer van die Here te gebruik!
Ds. FAF Gertenbach
Jeffreysbaai