Waaraan hou ons vas? - 14 Augustus 2020 (Dag 141)
Lees: 1 Kor 15:1-11
Ons leef werklik in ‘n tyd met baie probleme. Dit is nie nuus nie! Die groot vraag is: Veral onder hierdie omstandighede, waaraan hou ons vas? Paulus skryf hierdie brief aan die Korintiërs juis om hulle te bemoedig onder hulle dikwels moeilike omstandighede. Dit sal nie help om aan iets vas te hou waarvan jy onseker is of wat jou nie vastigheid kan gee nie. Wat vasstaan is net die Bybel omdat Dit die Woord van die Here is. Wat leer die Bybel ons?
Dit wat seker en wat vasstaan (en die kern van die Evangelie) is drie dinge:
1. “Jesus Christus het vir ons sonde gesterf”
Wat beteken dit vir my onder ons huidige omstandighede? Jesus, God, het my so lief dat Hy sy lewe vir my gee. As Hy my só liefhet, sal Hy dan vir my aan ‘n lot oorlaat waar ek sonder Hom moet stry en swaarkry? As Hy bereid was om my sondeskuld te dra, sal Hy dan vir my die las van hierdie omstandighede alleen laat dra? Hou vas aan die Here en aan sy liefde want Hy sal my nooit in die steek laat nie! Maar Hy het nie net gesterf nie!
2. “Hy is op die derde dag opgewek”
Ja, die dood kon Hom nie vashou nie Satan en die dood is nie oorwinnaar nie. Jesus Christus het die dood oorwin en daarom kon Hy daaruit opstaan. Wat beteken dit vir my in hierdie tyd? Jesus het ter wille van ons oorwin. Anders gestel: Ons is ook in Jesus oorwinnaars. Ek hoef nie bang te wees vir moeilike en selfs haglike omstandighede nie want ‘n oorwinnaar is nie bang nie. Die teenoorgestelde is waar: Alhoewel ek my hou by alle maatreëls soos dit ‘n kind van die Here betaam, kyk ek vorentoe en weet dat ek klaar oorwinnaar is. Selfs al sou ek sterwe, is ek nogtans oorwinnaar want die dood kan my nie weghou van die heerlikheid wat ek saam met my Here vir ewig gaan belewe nie. Hoe weet ek hierdie dinge en hoe kan ek daarvan verseker wees?
3. “Jesus het verskyn”
Ja, Hy het verskyn aan Petrus, aan die twaalf en so kan ons aangaan, maar aan my? Lees weer mooi wat daar staan: Telkens herinner Paulus dat dit alles is “volgens die Skrifte”. Die Here verskyn nie meer fisies aan ons soos aan die eerste dissipels nie maar elke keer as ek my Bybel (“die Skrifte”) lees, verskyn die Here eintlik aan my, want Hy praat met my deur sy Woord. Elke keer as ek stiltetyd hou, Bybelstudie doen of op watter manier ek ook met die Bybel besig is, let mooi op en luister want die Here “verskyn” aan my, praat met my direk. In Sy praat met my verseker Hy my juis dat ek aan Hom alleen kan vashou as die ewig onveranderbare en alleen standvastige God.
Die vraag is dus nie in die eerste plek hoe haglik ons omstandighede is nie, maar wel: Waaraan en aan Wie hoe jy onder hierdie omstandighede vas?
Ds. Faf Gertenbach
Jeffreysbaai.