Pasop vir te laat wees - 14 Julie 2020 (Dag 110)
In Lukas 16:19-32 lees ons Lasarus, ‘n baie siek en arm man het net een oplossing gesien om te kan oorleef en dit is om by ‘n ryk man se voordeur te gaan lê en bedel. Dit het niks gehelp nie. Die ryk man het gemaak asof hy hom nie eers raaksien nie. Gelukkig vir hom sterf Lasarus. Nie lank daarna sterf hy ook. In die hemel probeer hy tevergeefs om vader Abraham se guns vir hom en sy broers wat nog lewe te werf . Abraham se antwoord is eenvoudig: nou is dit te laat.
Wie is ek en jy in hierdie verhaal? Ons is ongetwyfeld die ryk man. Daar is egter een groot verskil. By ons voordeur, op ons lewenspad is daar nie net een Lasarus nie, maar baie. Baie wat siek is, wat arm is, wat bedroef is, wat eensaam is, wat honger is, wat ongelukkig is, wat nie deel is van ‘n kerk nie en ook nie glo in Jesus nie. Hierdie Lasarusse is nie ver van ons af nie. Baie van hulle is saam met ons in dieselfde dorp, straat, omgewing, gemeente, werk miskien vir ons. Baie van ons het miskien ‘n Lasarus onder ons eie vriende, familie. Miskien is Lasarus jou eie ouers, kinders of eie man of eie vrou. Lasarus is elke mens in nood wat jou en my pad kruis.
Hierdie Lasarus by ons voordeur vra gewoonlik nie baie nie. Nie ‘n hele bord kos nie, net ons oorskiet. Nie al ons geld nie, net ‘n paar sente. Nie ons hele dag nie, maar net ‘n paar minute. In baie gevalle nie geld of kos of tyd nie maar net omgee, ‘n luisterende oor, ‘n vertroostende woord, ‘n warm hart.
Wat maak ons met Lasarus op ons lewenspad? Kyk ons haar of hom nie baie kere mis nie. Het ons nie dikwels baie verskonings waarom ons so maak nie. Is die kern van die probleem nie miskien dat ons net soos die ryk man alles opeis vir onsself, baie kere selfs ons oorskiet. Pasop Lasarus kan sterf. Jy kan sterf en dan is dit te laat.
Daar is ook ‘n ander perspektief. Ons is die ryk man, maar ook Lasarus. Arm, naak en beklaenswaardig vanweë ons sonde. Ons verdien almal om te sterf en in die onuitblusbare vuur gewerp te word. Verdien alleen pyn en lyding. Maar danksy, Jesus het in ons plek kom staan. Hy het Lasarus vir ons geword. Op grond van sy genade behoort ons uit dankbaarheid mense te wees wat ‘n hart, mond, oog, oor, hand het vir alle mense in nood. Nie môre of oormôre nie, nou, veral noudat ‘n virus ons bedreig, elke dag, voordat dit te laat is.
Prof. Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria