Lees: Kolossense 2:6-15 en 20-23
Die mense van Kolosse aan wie Paulus die brief gestuur het, was heel moontlik mense wat bedreig en bang gevoel het. Ons kan dit aflei uit Paulus se bemoedigende woorde aan hulle. In die vorige heidense godsdiens wat hulle aangehang het, is hulle geleer dat daar allerlei bose natuurkragte is wat ons mense se bestaan bedreig. Terselfdertyd weet ons, die hopelose veelgode-godsdiens wat die Grieke aangehang het, was maar troosteloos. — selfs die heidene wat nog in ‘n mate in die gode geglo het, het gevoel hul gode is ‘n hopelose klomp In ‘n krisis kon hulle glad nie enige waarde aan hulle lewe toevoeg nie Hulle kon ook geen troos bied as die dood hulle bedreig nie.
Toe die voormalige heidene egter as nuwe Christene in Kolosse hulle hemelse Vader en Christus leer ken het, het dinge verander. Hulle behoort nou vry te voel van baie van hulle vrese. Dit is wat Paulus in sy brief by hulle wil tuisbring. Hulle is opgesoek deur die Here wat hulle liefhet en naby hulle is en wil wees, in alle omstandighede. Tog is dit asof Paulus se lesers nie hulle ore kon glo nie. Vandaar Paulus se brief aan hulle. Hulle, wat die vryheid in Christus leer ken het, het alweer gevaar geloop om op ‘n ander manier verslaaf te raak. Slawe van ‘n geloof of dwaalleerpraatjies wat hulle weer hulle vreugde in Christus sou ontneem. Ons ken ook mos, selfs vandag, die stemme van mense wat ons ons geloofsvreugde wil ontneem. Mense wat niks met Christus te doen wil hȇ nie, sȇ mos maklik, ja, seker nou ook in die onsekere tyd: Dit help nie om op die Here te vertrou en na Hom en na Christus uit te reik nie. God bestaan nie. Ons is maar net aan onsself uitgelewer. Bou liewer jou vertroue op die wetenskap. Ons slim mense sal self ‘n oplossing vind en uitkoms bied. God bestaan nie, en dus kom ook ons krisis nie van die Here af nie. Om dus te vertrou dat Hy by ons is in die krisis, is sinloos. Hy is nie daar nie. Maak daarmee vrede. Dit is sulke mense wat die sekerheid van jou geloof en jou vertroue op God van jou wegneem. Dalk nie doelbewus nie, maar dit is sekerlik die effek van hulle skeptisisme op ons eie geloofsvertroue.
Die mense wat in Kolosse die groot onsekerheid onder die kerk se gelowiges gebring het, was ‘n paar half-Christelike dwaalleraars. Hulle wou vir die vrygekoopte gelowiges laat verstaan: Ja, dis goed en wel om Christus te dien, maar daar is nog ‘n klomp wettiese godsdiensreёls wat julle ook moet nakom. Daarsonder is julle steeds verlore. Mense moes sekere soorte kosse vermy, spesiale sabbatte hou , ensovoorts. In ‘n sekere sin, impliseer die dwaalleraars – julle is maar nog steeds aan julleself uitgelewer. Help julleself deur al die wetsvoorskrifte na te kom. Christus alleen is nie genoeg nie. Hy kan julle nie uit julle lewens-en sondekrisis dra nie.
Paulus laat nou vir die gelowiges van Kolosse weet, en hy sê ook vir ons: Julle moenie die dwaalgeeste glo nie. Elkeen wat Christus opreg dien, is iemand wat deur Hom vrygekoop is. Vry van bose magte waarin die heidene glo. Vry van die vrees dat Jesus my dalk nie verlos het nie. Vry om die Here met dankbaarheid en sonder vrees te aanbid — ongeag wat mense om my glo of sȇ om my moedeloos te maak. In vers tien het ons gelees, herinner Paulus sy lesers: “In verbondenheid aan Christus deel ons aan sy volheid. Hy is hoof oor alle bose magte.” Onthou, Paulus wat hierdie boodskap skryf, was self iemand wat van baie aanvegtinge en beproewings kon getuig. Hy was waarskynlik in Efese of êrens anders in die tronk toe die brief opgestel is. In sy lewe het Paulus die vyandskap van baie mense — veral van die Jode, sy eie volksgenote , beleef. Soveel so dat hy dikwels by die dood omgedraai het as gevolg van hulle vervolging. Nou is dit hy wat die Kolossense aanmoedig om nie aan hulle vryheid en sekerheid van verlossing te twyfel nie. Paulus sȇ in Kol2:23 die mensgemaakte reëls wat die dwaalleraars aan hulle wil opdwing, het geen waarde om mense se sondige drifte te beteuel nie. Die implikasie is duidelik . Christus alleen dra jou uit jou sonde en deur die krisis as sy kind. Paulus spel dit duidelik uit in ons gelese gedeelte: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer”: (Kol. 2:14 en 15.)
Jesus is ons veggeneraal wat voor ons uitgeloop het om die bose te oorwin. Hy en die Heilige Gees is daar om ons te vertroos en te versterk-dit maak nie saak watter gevaar ons bedreig nie. Ons is saam met Christus in sy triomftog — en alle magte is in Jesus se hande — die mag van twyfel wat mense saai — die mag van onsekerheid — die mag van valse uitsprake van mense. Al die dinge, ook die toekoms, wat ons onseker stem. Alles is in die hande van ons ewige verlosser, Jesus Christus. Glo dit. Die geskiedenis van die kerk bewys. Die geloof het Christene deur al die eeue laat oorwin. Dit maak nie saak watter gevaar ook al hulle bedreig het nie.
Ds. Anton van Rensburg
Bellville