Ware hoop kom van God - 14 Mei 2020 (Dag 49)
Petrus Skryf in 1 Petrus 1:20-21 “..ter wille van julle het Hy (Christus) eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek het..... Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.”
Die spanning en vreugdeloosheid van ons dag word bevestig deur ons gesigte wat nie meer glimlag nie. Dit lyk asof ons hoop verloor het. Ons het opgehou om oplossings te soek. Mense sonder hoop is lam, moeg en vreugdeloos.
Daar is net een antwoord op die vraag wat moet ons dan doen? Kyk op na God.
Dit is wat ons voorouers gedoen het. Dit is wat ek geleer het by huisgodsdiens. Dit is waartoe Petrus ook sy lesers oproep.
Petrus skryf vir mense wat vervolg is. Getuies vertel dat hulle arm was. Die owerheid het na redes gesoek om die gelowiges van daardie tyd dood te maak. Hulle is valslik beskuldig van brandstigting. Talle van hulle is vir leeus gevoer vir die genot van die regeerders – waarskynlik Nero.
Hulle troos is: ...julle word deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd ge-openbaar te word (vers 5).
Moenie uit die wêreld wegvlug nie. Wees eerder bly. Dit is maar ‘n kort tydjie. Hierdie is maar net soos ‘n toets (vers 7). Net soos goud met vuur getoets word. So sal julle standvastige geloof uiteindelik dien tot die lof van God. Hierdie waarheid moet julle bly maak.
My rede vir ware hoop, blydskap en sin vir die lewe lê buite myself. Dit is gewortel en gevestig in die lewende God. Dit lê in die opgestane Christus. Ware hoop gaan dus oor Iemand. Ware hoop word nie aangeleer of iewers gekoop nie. In verhouding met die Drie-enige God deel ons in die ware hoop. Talle verhale in die Bybel vertel hoe gewone mense moed geskep het deur ‘n ontmoeting met God.
Hoop is geestelike kultuur.
Hoop is deel van die vrug van die Gees.
Hoop is ‘n manier van wees.
Hoop is beweging.
Hoop realiseer in jou hande, in jou oë en in jou woorde.
Hoopvolle mense staan uit. Hulle lewe inspireer.
Kom ons koester die hoop wat van God kom.
So verander ons die omgewing en mense rondom ons. Vrees word verander in vreugde. Wanhoop bestaan nie meer nie. Negatiwiteit verander na ‘n positiewe lewenswyse.
God vra nie van ons wat Hy nie vir ons gee nie.
Ds. Johann Joubert
Hartebeespoort