Hoop in nood - 15 April 2020 (Dag 20)
Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak (Matt. 14:1)
Ons is tans nie meer onbekend met die geweldige krisis wat die Koronavirus oor die hele wêreld veroorsaak nie. Almal word op een of ander manier daardeur geraak.
Wat egter aangrypend is, is die uitwerking wat dit op die minderbevoorregtes, op die armes het. Wanneer op TV ‘n ma in ‘n pondokkie haar lot bekla en wonder waar sy vandag kos vir haar kinders gaan kry, ruk dit ‘n mens. Sy het nie werk nie en dus ook nie geld, die toilette is ver en so ook die waterpunt. Daar is natuurlik talle ander – bejaarde, gestremdes en so meer. Hongersnood is hulle voorland. Watter hoop is daar vir hulle, en uiteindelik vir ons almal, wanneer ons na die toekoms kyk?
Waar gaan daar hoop vandaan kom? As Christene soek ons natuurlik vir hulp in die Skrif omdat ons daar met die ander dimensie van ons van ons bestaan te doen kry - die geestelike waar ons met God en Sy betrokkenheid by Sy skepping en in besonder by die mens. Waar kan ons dit beter sien as by Jesus in Sy omwandeling op aarde.
In die Skrifgedeeltes hier bo sien ons Sy omgee vir die mens in sy nood. Meer as die behoefte aan genesing tref Hom. Hulle is honger, hulle behoefte aan daaglikse brood wat jy van God kan vra. So het Hy sy dissipels geleer om te bid. Hulle is bekommerd oor die skare en Vra Jesus om hulle weg te stuur want dit is al laat in die dag. Hy sien dit nie as ‘n oplossing nie. Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet. Dit klink na ‘n onbillike opdrag. Hulle het nie die middele om dit te doen nie. Die staatskas maak nie voorsiening vir sulke uitgawes nie. Al wat hulle kan voorsien is ‘n paar broodjies en vissies, maar wat is dit vir so baie mense? Min ja, maar vir Hom nie ‘n probleem nie. In Sy hande word broodjies en vissies genoeg vir meer as vyf duisend mense. Waar Jesus werksaam is, is daar uitkoms in moeilike situasies, is daar hoop.
Hierdie is ‘n besondere wonderwerk. Mens kan nou sê dat dit niks te make het ons krisissituasie nie. Nie? Kyk ons na Jesus se uitreik na mense met verskillende behoeftes van swaarkry, gebrek , verlies, dood en nog veel meer, sien jy die hart van ‘n God wat omgee en in en deur die Here Jesus hoop bring vir die mensdom.
Die gee van Sy lewe is die volmaakte voorbeeld daarvan. Hy kan help! Maar hoe? Deur maar net te glo en dan sal dit gebeur?
Jakobus kom met ‘n belangrike toevoeging tot die geloof wanneer hy van beproewings en toetsing daarvan praat. En praat hy oor ‘n baie belangrike saak wat mens kan kortkom in jou geloof. Hy praat van wysheid, wat jy van God gelowig moet bid.
Prof Kobus Kellerman
Gordonsbaai