Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Wie is ons? - 15 Augustus 2020 (Dag 142) 

Lees: Psalm 8:1-10

Skrifoordenking: Onlangse mediaberigte het saamgegaan met foto’s waar duisende mense in Olievenhoutbosch (Centurion) wag vir kospakkies, en na ʼn hele dag se wag met leë hande huis toe gestuur is. Die berig is geskrywe op die rug van baie ander berigte wat die afgelope week verskyn het, en wat mense in Suid Afrika al hoe meer voorskrywe wat om te doen en wat om nie te doen nie in die lig van die Covid-19 pandemie in ons land. 

Wat egter skokkend is, is dat baie van die sake eintlik niks met die voorkomende maatreëls te doen het om die virus oor te dra nie, maar eintlik die optrede van ʼn regering is wat met die méér mag wat hulle nou het, alles wil beheer en mense van hulle menswaardigheid ontneem. 

Met die lees van Psalm 8 word mens oorweldig met die besef van die grootheid van God en die mens se nietigheid aan die ander kant. Die Here is so oorweldigend groot dat die hele aarde van sy eer vertel. En die mens is eintlik niks, maar in die oë van die Here is hy kosbaar. Die stukkie niks wat uit die stof van die aarde gemaak is en mens genoem word, het die Here met oorweldigende liefde gekoester. En in sy liefde het die nietige mens iets geword. In die oë van die Here is die mens so waardevol dat Hy hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak het en hom soos ʼn koning met aansien en eer beklee het. Die hoogste eer is daarin geleë dat die mens namens God oor die hele skepping heers (Psalm 8:6,7). 

As God elke mens na sy waarde so hoog ag, wie is ons as mense om die menswaardigheid van medemense weg te vat en self te probeer heers oor alles? Ons is elke dag onder die besef van die invloed wat die Covid-19 virus op almal het, en ons moet verantwoordelik daarmee omgaan en ongetwyfeld die nodige voorsorgmaatreëls tref. Maar op die ou end is ons lewens in die hande van die Almagtige God wat alles op die aarde onderhou, en in Sy oë is elkeen van ons baie kosbaar. Mag ons as mense mekaar altyd na waarde ag en bystaan met ons oë gevestig op God wat ons in die skepping met oorweldigende liefde elke dag koester.    

Gebed: Ons Almagtige God en hemelse Vader, versorg U ons as u kinders. U het self mense gemaak en hulle na u beeld geskep. U het vir hulle die opdrag gegee om oor die aarde te heers en alles tot u eer te doen. Help ons elkeen om in nederigheid in U te bly glo en mekaar met dieselfde sorg en liefde te hanteer. Bewaar u kinders op hierdie aarde. Amen.

Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp  
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: